Amptelike ingebruikneming van tennisklub se herseëlde bane

’BO: ’n Lugfoto van die opgeknapte bane. Foto: Garnett Wicomb (jnr); en onder die spelers wat die afgelope naweek aan die tennistoernooi van die Wesbank tennisklub deelgeneem het. Foto: Garnett Wicomb

DIE Wesbank Tennisklub het die afgelope naweek sy herseëlde bane met ’n baie suksesvolle gemengde- en mansdubbelstoernooi amptelik in gebruik geneem en by dieselfde geleentheid diegene wat van die bane ten volle geborg het om opgeknap te word, op tasbare wyse bedank.

Die klubvoorsitter, Louis Uys, het spesiale waarderingsertifikate oorhandig aan die borge wat hierdie opknappings moontlik gemaak het.

Volgens hom sou dit nie vir die klub moontlik gewees het om die bane te laat herseël nie omdat geen hulp van die munisipaliteit verkry kon word nie.

Volgens Uys is dit nou danksy die opgradering van die bane moontlik om weer toernooie aan te bied wat die klub se geldkas en ook die dorp se ekonomie ’n hupstoot sal gee.

Altesaam 42 spelers van George, Mosselbaai, Hartenbos en Oudtshoorn het aan die toernooi deelgeneem.

In die A-afdeling van die gemengde dubbels-kompetisie het Anton Meyer en Annalize Potgieter van George met die louere weggestap en in die B-afdeling Louis Pienaar (Wesbank) en Christine Gouws (George).

In die mansdubbels was dit George Wallace en Brandon van der Westhuizen wat as wenners uit die stryd getree het. Almal wat deelgeneem het, het pryse ontvang.

Wallace het ook ’n kontantbedrag van R1 000 in die sak gesteek toe hy die prettige eenpunt-, rooibalkompetisie gewen het waaraan al die spelers deelgeneem en vir groot opwinding gesorg het.
Uys het ook sy dank uitgespreek teenoor die borge van die toernooi.

Die Wesbank Tennisklub is oop vir almal, met spesiale pakkette vir families terwyl nie-lede teen ’n tarief van R30 per speler per dag ook van die geriewe gebruik kan maak.

Belangstellendes kan die voorsitter by 082 835 8555 of die sekretaris, Danie Steyl by 078 469 3727 skakel vir volle besonderhede. (Deur Garnett Wicomb)