
’n Eerste vir Oudtshoorn was die naweek se Precision Rifle Federation (PRS) langafstand- en presisie skietkompetisie by die Kmdt Gideon Scheepers Skietbaan net buite Oudtshoorn.
Die skuts het deelgeneem aan ’n provinsiale skiet wat bekend staan as die “JJ Maré Gedenk Skietkompetisie” wat nou ’n jaarlikse instelling is. 11 skuts wat deel uitmaak van die Westelike Provinsie Liga het deelgeneem en drie plaaslike skuts. Metaalteikens, ook genoem “gongs”, is geplaas op afstande van tussen 250 m tot en met 1 040 m. Van die gongs op die korter afstande is 15 cm in deursnee en dié op die verder afstande ongeveer 45 cm in deursnee.
Die dag het pragtig verloop met uitstekende weersomstandighede volgens die organiseerders. Die wenner vir die dag was Asharuf Moorad (42/60), tweede Mohsin Tajbhai (41/60) en derde Alwyn Landman (37/60). Die eerste twee plekke is skuts wat gedurende die 2022-seisoen Suid-Afrika verteenwoordig het.
Die kompetisie het bestaan uit ’n totaal van 60 skote. Daar was agt bane waar elke skut agt skote moes skiet op verskillende teikens binne 120 sekondes per baan. Foto’s verskaf