Bedônirt-boek vir beurtkrag

Hannes Visser se tweede boek is binnekort beskikbaar op die rak. Hierdie boek is nie net ’n lekker gemaklike boek nie, maar is ook interaktief. Oudtshoorniete kan uitsien na skaterlag strofes, identifiseer met die alledaagse frustrasies wanneer landsburgers onkant gevang word deur beurtkrag wat op elkeen se lewens ontydig indring. Foto: Stefan Goosen

BEKENDE Oudtshoorniet, Hannes Visser, het pas sy tweede boek met die titel van Donkirbedônirt, vrygestel.

Die boek is lekker tong in die kies, en bring letterlik donker humor na een van die land se grootste frustrasies en krisse.

Die berugte onderwerp van beurtkrag is daagliks op menigte landsburgers se lippe en dryf elkeen, jonk en oud daagliks na hare-uit-die-kop-trek oomblikke.

“Terwyl mense mor en kla oor beurtkrag, het ek besluit om na ’n ligter kant van die tragedie te kyk.” vertel Visser.

Hy het saans tydens beurtkrag oor ’n tydperk van twee maande lukrake gedagtes en limerieke geskryf om sy frustrasie met die donker toestand te hanteer en vasvang.

Op dié manier is die bundel Donkirbedônirt gebore en nuwe gedaante gegee aan sommige kleuterrympies en bekende gedigte.

So byvoorbeeld verskyn die gedig, Die ruiter van Skimmelperdpan, in ’n nuwe gedaante as Die Ruyter van Megawattpark en Koos kombuis se liedjie, Almal wil ’n huisie by die see hê, word Almal wil ’n huisie sonder beurtkrag hê.

Daar is selfs ’n kunsuitstalling en fotogalery waarvan net die onderskrifte sigbaar is, want die res is natuurlik in Eskom se donkerte gehul.

“Donkirbedônirt is geen digbundel, literêre- of genre-spesifieke werk nie, dit is ’n bundel met absurde en versteekte boodskappe en sal waarskynlik veral deur lesers met ’n sin vir humor geniet word.” vertel Visser verder.

’n Bekendstelling word beplan teen die einde van Mei sodra die eerste oplaag gedruk is. Sover bekend is dit die eerste Afrikaanse bundel wat 100% deur Eskom se onbevoegdheid geïnspireer is.

Visser se eerste digbundel, Die jaar toe Pa, is ook beskikbaar.

Oudtshoorniete ken vir Visser as die vorige redakteur van ’n koerant, waar hy menigte dorpsgenote op hoogte gehou van ongelukke in en om die dorp. Deesdae is hy in die media- en kommunikasie stoel van Oudtshoorn se burgemeester Chris Macphearson. (Deur Angelique Erasmus)