Tweede trofee vir Hungry Lions binne drie maande

Ricardo Pietersen (links), kaptein van Hungry Lions, ontvang die Oudtshoorn Munisipaliteit wisseltrofee van die voorsitter van die OPL, Gavin Pietersen. Foto: Garnett Wicomb

HUNGRY LIONS het Maandag, 18 April, op Gesinsdag, die Paasnaweek vlakkie-kriekettoernooi op die veld reg- oor Grace Church International gewen toe die span Firestones in die eindstryd met 16 lopies ge-klop het.

Die span het in Februarie ook die eerste Big Bash T20 vlakkiekriekettoernooi gewen.

Hungry Lions het eerste gekolf en danksy ’n skittervyftigtal deur die kaptein, Ricardo Pietersen (52), 88/6 in hul toegelate tien boulbeurte aange-teken.

Thurston Murphy was Firestones se beste bouler met 3/15.

Firestones het vroeg twee paaltjies verloor en kort daarna oor swak lig gekla, maar die wedstryd is voortgesit.

Johan Barends het met ’n warrelwind-beurt van 31 lopies vir vuurwerke gesorg, maar dit was nie genoeg om die span deur te dra nie. Die telling was na tien boulbeurte 72/2.

Die organiseerders het die 12 spanne wat deelgeneem het bedank vir die goeie gees waarin die wedstyde gespeel is.

Die deelnemende spanne was Firestones, Hungry Lions, Pro-stars, Underdogs, Champs, Neppon Warriors, Oukas Flights, Hunters, Spartans, Legends en die Knights.

Die toernooi was volgens Gavin Pieterse van die Oudts-hoorn Premier Liga (OPL) goeie voorbereiding vir die 2022 T20 OPL-toernooi wat die afgelope naweek afgeskop het en waarvoor sestien spanne ingeskryf het, nl Hungry Lions, Firestones, Neppon Warriors, Smurfs, Oukas, Spartans, Champs, Underdogs, Hunters, Knights, Prostars, Egkinders, Team Players, Revealing Team, Tornadoes en SCB.

Sondag, 24 April se uitslae is soos volg:
Underdogs 37, Hungry Lions 38/2. Hungry Lions wen met 8 paaltjies.
eppon Warriors 97/7, Champs 17. Neppon Warriors wen met 80 lopies;
Smurfs 63, Spartans 64/5. Spartans wen met 5 paaltjies.
Oukas 68, Legends 69/7. Legends wen met 3 paaltjies. (Deur Garnett Wicomb)