Nuwe Bestuurderslisensie Toetssentrum vir Uniondale en omgewing

Die oogtoetsmasjien is reeds ingerig by die Uniondale bestuurderslisensie toetssentrum.

Die Uniondale gemeenskapsaal word ingerig as ‘n lokaal vir leerlinglisensie-klasse.

Van die papierwerk is alreeds ingerig by die kantore.

George Munisipaliteit het uitstekende nuus vir die inwoners van Uniondale en omliggende gebiede, ‘n nuwe bestuurderslisensie toetssentrum word  hier ingerig.

Vernon Petersen, Waarnemende Direkteur van Beskermingsdienste en waarnemende George Verkeershoof sê die dae dat Uniondalers and mense van omliggende gebiede vir jare baie kilometers moes af lê om hul aansoeke te doen, is verby.

Die plaaslike mense sal nou op hul deurdrumpel aansoek kan doen vir onder meer leerlinglisensies, hernuwing van bestuurderslisensies en aansoeke om professionele bestuurderslisensie permitte.

Die plaaslike mense behoort baie in hul noppies te wees omdat die   poging aangewend is, om die dienste nader aan die gemeenskap te bring.

Gedurende 2021 het Petersen,  Piet Junies, Senior Superintendent: Lisensies samesprekings met die dorpsbestuurder van Uniondale, Duppie du Preez en assistant-rekenmeester Madhaven Isaacs gehou om die moontlikheid bespreek rakende die inrig van ‘n nuwe sentrum. By die sentrum sal leerlinglisensieklasse aangebied word, die hernuwing van bestuurderslisensie asook professionele bestuurderslisensie-permitte.

Die hele span was dit eens dat die gerief vir Uniondale lank reeds nodig is en het met groot entoesiasme begin werk aan die plan.

Intussen is kantoorspasie is geskep vir die nuwe sentrum by Uniondale munisipale kantore. Die kantore is reeds beveilig vir die oogtoetsmasjien en die gemeenskapsaal is ingerig vir die aanbied van die leerlinglisensieklasse.

Petersen sê die Nasionale Departement van Vervoer het reeds die finale goedkeuring vir die Bestuurderslisensie Toetssentrum Graad E verleen. Die munisipaliteit  wag slegs op die administratiewe proses om by die Wes-Kaapse departement van Vervoer afgehandel te word sodat die deure van die nuwe perseel geopen kan word.

Intussen word die opening van die toetssentrum reeds beplan.