’N NUWE koalisie van partye kan dalk Vrydag die beheer van die Groter Oudtshoorn-raad oorneem.
Mosies van wantroue in die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chad Louw (ANC), asook in die onder-burgemeester, Vlancio Donson (Icosa), is na verneem word vir stemming by ’n raadsvergadering wat Vrydag plaasvind, ingedien.
Dit wil voorkom of die ANC en Icosa, wat tans in die beherende koalisie saamwerk, mekaar nou die stryd in hierdie mosies aansê.
Die mosie van wantroue in Louw is volgens bronne deur Icosa ingedien, terwyl die mosie van wantroue in Donson gesamentlik deur die Oudtshoorn Gemeenskap Inisiatief (OGI) en die ANC ingedien is.
Navrae aan die munisipaliteit oor die mosies wat voor die raad moet dien, was teen druktyd nie beantwoord nie.
Indien dié wantrouemosies wel tot stemming kom, kan dit lei tot ’n verandering in die groep partye wat die dorp in ’n koalisie beheer.
Dit is bekend dat gesprekvoering oor moontlike samewerking relatief gereeld tussen van die nege partye in die raad plaasvind.
Tans werk die 13 raadslede van die ANC (8), Icosa (2) asook Good, Saamstaan en Advieskantoor (1 elk) saam as ’n koalisie wat die Groter Oudtshoorn-raad beheer.
’n Koalisie in die Groter Oudtshoorn moet uit minstens 13 raadslede bestaan om ’n meerderheidsbesluit in dié raad van 25 raadslede te neem. (Deur Liesel le Roux)
Nuwe koalisieregering op pad vir dorp?
