
DIE Dysselsdorp Polisie het ’n geregtelike doodsondersoek begin nadat ’n ontbinde liggaam Dinsdag-oggend (19 April) uit ’n kanaal buite Dysselsdorp gehaal is.
Die liggaam is egter volgens die Polisie nie die van iemand wat onlangs in die water beland het nie, aangesien dit al ontbind was.
’n Outopsie om die geslag van die oorledene en die oorsaak van dood te bepaal, sal later die week gedoen word.
Volgens sers Christopher Spies, polisiewoordvoerder vir die Suid-Kaap, het ’n lid van die publiek die oggend die liggaam in die water sien dryf en die Polisie daarvan in kennis gestel.
Hy sê die liggaam is omstreeks 11:45 uit die water gehaal.
“Die saak en omstandighede rondom die voorval word verder ondersoek.”
’n Inwoner van Dysselsdorp, George Meyer, wat Dinsdag op die toneel was, sê die liggaam wat in die kanaal gevind is, is ’n groot skok vir die gemeenskap.
“Ons is in rou. ’n Maand gelede is ’n jong man vermoor. Vrydagaand is twee mense ernstig beseer toe ’n voertuig in ’n klub vasgejaag het. Dis verskriklik.”
Die Dysselsdorp Polisie het versoek dat mense hulle by tel 044 251 8403 kontak met inligting oor enigiemand uit die omgewing wat vermis word.
• Die Stompdriftdam Kamanassie Watergebruikersvereniging het intussen mense versoek om tot 30 Mei weg te bly van die kanaalstelsel buite Dysselsdorp.
Water word sedert Maandag (18 April) tot 30 Mei uit die Stompdriftdam in die kanaalstelsel vrygelaat as leiwater vir die landbou.
Daar word ook versoek dat mense veral seker sal maak dat kinders nie naby die kanaalstelsel kom nie om enige tragedie soos wat verlede jaar plaasgevind het, te vermy.
Die negejarige Rudicia (Jonalene) Gelant van Dysselsdorp het op 2 Mei verlede jaar in die kanaal verdrink nadat sy in die water geval het terwyl sy saam met ander kinders naby die kanaal gespeel het en die water haar meegevoer het.
Haar lyk is later die dag sowat 10 tot 15 km van waar sy in die water geval het, gevind. (Deur Liesel le Roux)