Vrae oor ongeïdentifiseerde man

DAAR is tans meer vrae as antwoorde oor die lyk van ’n ongeïdentifiseerde man wat Dinsdagmiddag (19 April) in Loopstraat op Oudtshoorn gevind is.

Volgens die Oudtshoorn Polisie was daar geen duidelike oorsaak vir die man se dood nie, terwyl inwoners van die omgewing vermoed dat hy een van die hawelose mense is wat gereeld in die omgewing rondstap.

Ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die man se liggaam is net voor 12:00 deur lede van die publiek opgemerk.

“Mense het ingeskakel toe hulle die man buite in die straat sien lê het,” het sy bygevoeg.

Michaels sê die man is na die hospitaal geneem en eers daar dood verklaar. Daar was volgens haar geen steekwonde of sigbare beserings aan sy liggaam nie, en sal ’n nadoodse ondersoek gedoen word.

Dawid Bresler, ’n inwoner van die omgewing, sê hy het die man reeds die oggend op die sypaadjie gesien, met sy voete wat by die sypaadjie af gehang het. Bresler was op pad om sy vrou en ’n paar ander mense werk toe en leders heen te neem.

“Toe ek weer tuis kom, het ek die polisievoertuie en ’n forensiese voertuig daar sien staan.”
Bresler sê hy vermoed die oorledene is een van ’n handvol hawelose mense wat in die omgewing rondloop en bedel by mense wat uit kafees kom na hul inkopies. “Dié man het altyd so wydsbeen met ’n sleepvoet geloop. Hy en twee ander was veral gereeld buite die Indraf Kafee.” (Deur Stefan Skapie Goosen)