DIE borgaansoek van Patrick Rondganger (35) wat aangekla word van moord op Eric Xaxaka (59) van Bongolethu wie se lyk in ’n vlak graf op sy erf gevind is, is Dinsdag in ’n stampvol landdroshof uitgestel omdat die betrokke staatsaanklaer met verlof afwesig was.
Rondganger, ’n vriend van Xaxaka se dogter, het volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoon Polisie, reeds ’n bekentenis afgelê.
Xaxaka is as vermis by die polisie aangemeld nadat hy nie op Woensdag 6 April by sy werk opgedaag het nie. Sy lyk is op Vrydag 8 April onder twee yskaste agter sy huis gevind waar dit in ’n vlak graf begrawe is.
Al die laerhofsake is Dinsdag in die B-hof aangehoor word omdat twee aanklaers nie beskikbaar was nie en beurtkrag ook daartoe bygedra het dat feitlik al die sake op die dag se hofrol uitgestel moes word.
Rondganger het op Maandag 11 April vir die eerste keer in die hof verskyn en die saak is toe vir ’n formele borgaansoek deur landdros Ntombizandile Maseti tot 19 April uitgestel.
Die saak is Dinsdag deur landdros Vaughen Shone tot Vrydag 29 April uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)