Kuierplek se muur te pletter gestamp

Bo: Die toneel Vrydagaand waar ’n Ford Everest in die muur van ’n kuierplek in Dysselsdorp vasgery en dele van die muur ineengestort het. Foto verskaf

VIER mense is beseer en ’n muur het ineengestort toe ’n Ford Eve­rest Vrydagaand (15 April) in ’n kuierplek in Dysselsdorp vasgery het.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het die voorval omstreeks 21:15 in Dysselsweg plaasgevind.

“Voorlopige inligting dui daarop dat die bestuurder beheer oor die Ford Everest verloor het en teen ’n muur van die taverne gebots het. Verskeie persone is beseer nadat die muur van die taverne ineengestort het, onder meer die voertuig se twee insittendes en twee mense wat binne die taverne was.

“Die voertuig is op die oog af onherstelbaar beskadig. Die omstandighede rondom die botsing word ondersoek.”

’n Klagte van roekelose en nalatige bestuur word deur die Dysselsdorp-speurtak ondersoek.
Die dossier sal aan die senior staatsaanklaer voorgelê word vir beslissing sodra die ondersoek gefinaliseer is. (Deur Liesel le Roux)