’N MUNISIPALE watervragmotor wat landelike inwoners se watertenks hervul, het Saterdag – net nadat dit teen ’n afdraand af is sowat 5 km buite Oudtshoorn op die Buffelsdrift-pad – omgeslaan.
Dié grondpad staan ook bekend onder inwoners van Oudtshoorn as die Honde-eenheidpad.
Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die voertuig omgeslaan nadat die bestuurder na bewering beheer oor die voertuig verloor het.
“Die bestuurder sowel as die passasier is lig beseer en per ambulans na die hospitaal vervoer.”
Die ongeluk het omstreeks 12:00 plaasgevind.
Die polisie ondersoek tans ’n saak van roekelose en nalatige bestuur.
Aurelia Mle, woordvoerder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, sê die twee werknemers van die Oudtshoorn Munisipaliteit wat in die vragmotor was, het gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie, en is reeds tuis. (Deur Liesel le Roux)
Waterlorrie slaan op grondpad om
Die munisipale watervragmotor wat Saterdag net nadat dit teen ’n afdraand af is, omgeslaan het. Foto: Liesel le Roux