Sy gholfstokke nog nie koud nie

Niel Truter. Foto: Higgo Jacobs

NIEL TRUTER, 81-jarige gholfspeler van die Oudts­hoorn Gholfklub, het Woensdag (2 Junie) tydens die Oudtshoorn Besigheidskamer se gholf­dag, ’n prestasie behaal wat min gholfspelers van sy ouderdom hom kan nadoen. Hy het twee spogtwees aangeteken en boonop nog op die 15de putjie die naaste aan die pen geslaan!

Op die derde putjie (syfer drie) het hy sy bofhou links van die setperk geslaan en met ’n perfekte kaphou die balletjie oor ’n afstand van 20 m vir sy tweede hou in die blikkie laat eindig.

Op die 15de putjie (syfer drie) het Truter die bal sowat twee meter regs van die pen geslaan en die moeilike afdraandset wat skerp gedraai het, vir sy tweede spogtwee van die dag ingerol. Sy hou naaste aan die pen het hom met ’n welkome lamsboud huis toe laat gaan.

Truter is egter nie net ’n talentvolle gholfspeler nie. Hy het sy bestuursvaardighede oor baie jare tot voordeel van gholf in Oudtshoorn, die Suid-Kaap en in die Vrystaat aangewend om die spel te bevorder. By die plaaslike klub was hy die president (1989, 1990) asook klubkaptein en be­stuurslid wat hom oor baie jare beywer het vir die verbetering en vooruitgang van die klub. Truter het Oudtshoorn Gholfklub se grondwet help herskryf en dit ook later in Engels vertaal.

In die Vrystaat waar hy en sy vrou, Christa, woonagtig was, was hy die president van die Oos-Vrystaat Gholfunie, asook toernooidirekteur van die SA Gholfstigting vir junior gholfspelers. Vanwee hierdie posisie wat hy beklee het, was hy ook ’n bestuurslid van die Vrystaat en Noord-Kaap Gholfunie waar hy die ontwikkeling van junior gholfspelers met groot belangstelling dopgehou het.

Sy gholfmaats het hom leer ken as ’n speler wat die spel terdeë geniet en vir die plesier daarvan speel, maar ook baie kompeterend is. Gary Player het beweer dat dit baie moeilik is om iemand te klop wat net nooit opgee nie. Dit is Niel Truter. Hy gooi nie handdoek in voordat hy van die setperk van die 18de afstap nie.

Truter geniet nog goeie gesondheid en speel gereeld twee keer per week 18 putjies wanneer hy nog self sy gholfkarrretjie deur die baan trek. (Deur Higgo Jacobs)