’N LEERDER van Bridgton Sekondêre Skool (BSS) op Oudtshoorn is onlangs met die hulp van ’n plaaslike rugbyklub die kans gegee om die SWD-streek te kan verteenwoordig in die Craven Akademieweek wat aan die einde van die Junie-vakansie sal plaasvind.
Die kranige rugbyspeler, John Slabbert, is in die o.18 SWD Akademie-span opgeneem wat reeds op 16 en 17 Junie aan die Suidelike Kustoernooi op Oudtshoorn gespeel het. Wedstryde is teen die Oostelike Provinsie en Boland gespeel, en het gedien as opwarmingswedstryde vir die Akademieweek.
Maar om die Akademieweek in Wellington by te kan woon is vir John bietjie moeilik, en daarom het Spring Roses Rugbyklub ingespring om die talentvolle jong speler te help.
Kelly Ellis, hoof van BSS, het die klub bedank vir hul donasie.
“As skool is ons dankbaar vir die donasie van Spring Roses aan een van ons leerders wat eersdaags aan die Akademieweek-toernooi gaan deelneem. In die huidige omstandighede is dit vir ons ouers moeilik om altyd die finansiële verpligtinge na te kom, daarom is ons ontsettend bly dat die plaaslike rugbyspanne bereid is om terug te ploeg in ons gemeeenskappe. In die proses gee hulle jong, plaaslike talent die geleentheid om te ontwikkel. Ons wil vir John baie sterkte en voorspoed toewens vir die toernooi en vertrou dat hy ons skool en gemeenskap gaan trots maak.” (Deur Ebenezer Titus)
Spring Roses help John
Van links, voor, met die oorhandiging is Willem Wagner, Spring Roses voorsitter; Lena Slabbert, John se ma; John Slabbert en Lorenzo van der Westhuizen van BSS. Agter is Royden Boonzaaier (links), hulpkassier by BSS; en Kelly Ellis, skoolhoof. Foto: Ebenezer Titus