Shintino: Familie hoop om eersdaags begrafnis te hou

Theresa van Wyngaardt (links), ouma van Shintino, by haar dogter, Theresa, die moeder van Shintino. Foto: Deon Meyer

DIE sewejarige seuntjie wie se verbrande liggaam op Dinsdag, 5April, op die plaas Hartmans­leegte in die Ladismith-omgewing in ’n vlak graf gevind is, Shintino van Wyngaardt (7), se familie wag steeds om hom te begrawe. ’n Begrafnisdiens was vir 7 Mei gerëel, maar kon nie plaasvind nie omdat die familie nog nie die liggaam terug ontvang het nie. Dit was onherkenbaar verbrand en is deur forensiese ondersoekers van die toneel verwyder.

Hoewel die familie aanvanklik bereid was om te wag, laat weet Shintino se ouma op 23 Mei per telefoon: “Dit is so hartseer om elke dag te moet wag om my kleinkind te begrawe. Dit put my uit en die dat ons niks van forensies of die speurder hoor nie, maak my kwaad.”

’n Begrafnisondernemer van Oudtshoorn, Lundi Yoxo, wat aanbied om Shintino gratis te begrawe, moet ook ingelig word dat die begrafnis nog nie kan plaasvind nie.

Op 15 Junie het die familie weer hul misnoeë met die situasie te kenne gegee. In reaksie hierop het Deidre Foster van die kantoor van die ombudsman van die Wes-Kaapse Polisie aangedui dat sy die saak aan die ombudsman deurgegee het. Sy het ook die familie gekontak en verseker dat aandag aan die saak geskenk word. (Deur Deon Meyer)