Sewe Oudtshoorn trompoppies in nasionale span

Van links is Jeswinique Davids, Somila Salman, Chanein Hifke, Isiphile Mtshutshwane, Snakho Donsa en Shawnna Campher. Afwesig met die neem van die foto: La Rashelle Vyver. Foto: Stefan Skapie Goosen

NIE minder as sewe meisies van Oudtshoorn is onlangs in die Suid-Afrikaanse trompoppiespan opgeneem wat in September vanjaar in Kroasië sal deelneem.

Hierdie jong Oudtshoorniete het reeds individueel ’n rits prestasies oor die jare ingeryg, en vanjaar sal al hul harde werk vrug dra wanneer hulle oorsee gaan om hul land en tuisdorp te verteenwoordig.

Onder die vaandel van die South African Majorette and Cheerleading Association (SAMCA), sal Jeswinique Davids, Somila Salman, Chanein Hifke, Isiphile Mtshutshwane, Snakho Donsa, Shawnna Campher en La Rashelle Vyver – indien hul finansies dit toelaat – aan die wêreldkampioenskap gaan deelneem, maar tot dan is daar talle struikelblokke, oefensessies en ander kompetisies wat hulle moet deurdraf.

Ronald Presher, afrigter van die Van Reede trompoppiespan, rig van die meisies af. Volgens hom is daar drie verteenwoordigers van SAMCA wat nasionaal byeenkomste bywoon en dan meisies kies om in die nasionale span van 50 te wees.

“Hulle kies die bestes in elke provinsie om deel te wees van die nasionale span. Hulle was aan die begin van Februarie op Oudtshoorn om na ons meisies se vaardighede te kyk.”

Volgens Ronald kyk die keurders na die meisies se algemene vaardighede en ook na die verskillende “props” wat hulle kan gebruik, soos byvoorbeeld enkel-vlag, dubbel-vlag, “baton” en so meer. “Van daar af word hulle gekeur om SAMCA-kleure te kry,” vertel hy.

Die kompetisie in Kroasië, volgens Ronald, is baie anders as wat die meisies van Suid-Afrikaanse kompetisies kan verwag. Hul voorbereiding sal van kardinale belang wees om hulle gereed te kry vir die September-kompetisie.

“Om sewe meisies uit Oudtshoorn te kry wat opgeneem word in die nasionale span is ongelooflik,” spog hy.

Megan Presher, Ronald se vrou en afrigter van die Oudtshoorn Majorettes-span waaraan meeste van die meisies behoort, vertel daar is vele oefenkampe in Gauteng waaraan die Oudtshoorn-meisies sal moet deelneem voor hul Kroasië toe kan gaan, en dit kos ook baie geld vir elke ouer.

Daar is ook ’n oefenkamp in Durban, Kwa-Zulu Natal.

Beide Preshers het al menigte toekennings by die Eden Sporttoekennings verower, individueel en vir die spanne wat hul afrig.

Volgens Megan is die oefenkampe en ook die kompetisie oorsee ’n verskriklike moelike situasie vir die meisies en hul families. “Dis nie net hul ekonomiese omstandighede wat ’n impak het nie, maar ook die feit dat baie van die kinders enkel-ouers het. Hierdie kompetisies en oefenkampe verg ’n groot finansiële bydrae.

“Die toer self gaan meer as R40 000 kos per kind. Saam met al die oefenkampe daarby kos dit hulle meer as R60 000. As hulle dit nie kan bekostig nie kan hulle nie oorsee gaan nie. So dit maak amper nie saak hoe goed jy is nie, as jou ouers dit nie kan bekostig nie, dan kan jy nie gaan deelneem nie, en dit is baie hartseer,” sê sy.

Skakel 081 505 8836 om betrokke te raak by die meisies se reis na roem. (Deur Stefan Skapie Goosen)