Rugbyafrigter van formaat sterf op 71

Mervyn Draai (71).

EEN van Oudtshoorn en die SWD se bekendste en mees gerespekteerde rugbyafrigters, Mervyn Draai (71), is op 13 Oktober na ’n masiewe hartaanval oorlede en word Saterdag (23 Oktober) ter ruste gelê.

Draai, oorspronklik van Friemersheim, Groot Brakrivier, het hom as jong man op Oudtshoorn kom vestig en vir etlike jare by die destydse Trust Bank gewerk.

Hy was ’n kranige losskakel op sy dae as lid van die destydse Perseverance Rugbyklub op Oudtshoorn en het ook die SWD in provinsiale wedstryde verteenwoordig.

Na sy speeldae het hy hom as rugbyafrigter bekwaam en het hy by verskillende klubs op Oudtshoorn asook spanne van die SWD Rugbyunie afgerig.

Op Oudtshoorn was hy oor die jare afrigter by die rugbyklubs All Blacks, Perseverance, Bridgton, Collegians, Spring Roses en Harlequins.

Bekende oudrugbyspelers wat onder sy hande deurgeloop het is spelers soos die Springbok Kabamba Floors, Piet da Silva en Keith Meyer, om net enkeles te noem.

Hy was ook een van die eerste rugby-ontwikkelingsbeamptes wat werksaam was by die SWD Rugby-unie.

Volgens vriende van Draai het hy ’n passie gehad vir rugby-afrigting en die ontwikkeling van rugbyspelers.

Hy was een van diegene wat betrokke was daarby om vrouerugby in die SWD tot stand te bring en te ontwikkel. In 2012 word hy hulpafrigter van die SWD vroue-rugbyspan en later ook afrigter van die unie se eerste vroue-sewesspan; ’n pos wat hy vir jare beklee het.

In sy lang loopbaan as rugby-afrigter rig hy ook die SWD Platteland, -Karoostreek en -Ontwikkelingsspanne af.
Draai sal volgens oud-rugbyspelers onthou word vir sy dissipline, fiksheid, eenheid en samehorigheid en sal sekerlik gemis word.

Hy word Saterdag om 10:00 vanuit die Bridgton Verenigende Gereformeerde Kerk begrawe.

Die huisdiens te Lupinstraat 32 begin om 09:00.
• ’n Verbyrit om laaste eer te bewys word vanaand (Donderdag) om 18:00 vanaf die Bridgton rugbyveld gehou. (Deur Garnett Wicomb)