De Jager is posduifklub-kampioen!

Johan de Jager, klubkampioen. (Foto verskaf)

DIE laaste vlugte van Oudtshoorn Posduifklub (OPK) se wedvlugseisoen is Saterdag (16 Oktober) op Strydenburg in die Noord-Kaap afgehandel, en Johan de Jager van Night Drops is as klubkampioen gekroon.

De Jager bly op sy wenpatroon van twee weke gelede toe hy die Eden Posduif Federasie-titel ingepalm het.

In wedvlug 35 het George Erasmus se duiwe egter eerste en derde plek verower, met een van De Jager se duiwe wat tweede was.

De Jager se duiwe kon wel in wedvlug 36 nie uitoorlê word nie, en het sy duiwe die top twee plekke verower, gevolg deur Hannes Smit se duif in die derde plek.

Strydenburg, padlangs met die N12, is byna 500 km van Oudtshoorn af.

Wedvlug 35-uitslae: Erasmus – 1, 3, 5, 7 en 12; De Jager – 2, 6, 10 en 11; Smit – 4 en 9; Ockie@Abe – 8.
Wedvlug 36-uitslae: De Jager – 1, 2, 5, 6, 10, 11 en 13; Smit – 3; Ockie@Abe – 4, 8, 9 en 15; Erasmus – 7, 12, 14 en 16. (Deur Stefan Skapie Goosen)