
Die top drie Elite Mans van die fietsren is van links Niel Rossouw (tweede), Daniel Loubser (eerste) en Yasseen Davis (derde).

Yolande de Villiers (middel), Oudtshoorn se ystervrou, het die “Gravel”-fietsren gewen, met Ashley Anne Gerber (links) tweede en nog ’n Oudtshoorniet, Chantel Terblanche derde.

Die “King and Queen of the Mountain”: Daniel Loubser (links) en Juanita McKenzie. Foto’s: Stefan Skapie Goosen en Chandré Schultz

Die top drie Vroue van die fietsren is van links Jessie Munton (tweede), Anriette Schoeman (eerste) en Juanita McKenzie (derde).
BARON VAN REEDESTRAAT op Oudtshoorn was Sondag ’n miernes van bedrywigheid met die Timbercity Cycle Tour, wat vanjaar volgens die organiseerders ’n rekordgetal inskrywings ontvang het.
“Dit was ’n baie suksesvolle fietsren met ’n rekordgetal inskrywings, buiten ons groot getal ontwikkelingsfietsryers wat ons nie eens bytel nie. Met die byvoeging van die Gravel-fietsren wat deur die Oudtshoorn Rotariërs behartig is, was dit nog beter,” het Corné Bence, president van die Eden Fietsryvereniging gesê.
Volgens Bence word 2023 se fietsren reeds beplan vir twee dae, in plaas van een, soos in die verlede.
Bence het bygevoeg dat die dag se borge en deelnemers baie goeie terugvoer oor die fietsren gegee het, en uitsien na volgende jaar.
Aan die einde van die dag het Oudtshoorniete die dorp ook baie goed verteenwoordig onder die talle deelnemers van elders.
Yolande de Villiers, Oudtshoorn se ystervrou, het byvoorbeeld die Gravel-fietsren oor 90 km gewen met nog ’n Oudtshoorniet, Chantel Terblanche in derde plek. Ashley Anne Gerber was tweede.
Braam Wannenburg, voormalige Oudtshoorniet, het die mans-afdeling gewen, met Marshal Hendricks tweede en Damon Terblanche derde – beide Oudtshoorniete.
Dit was die eerste keer dat hierdie kategorie aangebied is.
In die 104 km-padfietsren, die hoof-kategorie, het die top drie vroue soos volg gelyk: Juanita McKenzie derde, Jessie Munton tweede en Anriette Schoeman eerste – die 10de eerste plek uit elf Timbercity Fietsrenne wat sy inpalm.
In die mans 104 km-fietsren was Yasseen Davis derde, Niel Rossouw tweede en Daniel Loubser eerste.
Die “King and Queen of the Mountain” is ook aangewys met Loubser as “King” en McKenzie as “Queen”.
Charlissa Schultz, Oudtshoorn se eie kampioen padfietsryer, het die o.23 vrouekategorie gewen; terwyl John-Pierre Weideman die manskategorie gewen het.
Die top o.19’s van die dag was Jessie Munton, SA vroue-kampioen, en Bjorn Uys. (Deur Stefan Skapie Goosen)

Die uitvoerende hoof van die wêreldbekende Cape Town Cycle Tour, David Bellairs (links) en Corné Bence, president van die Eden Fietsryvereniging.

Eregaste tydens die prysuitdeling is van links Greg Bloem van Timbercity nasionaal; André van Greunen, eienaar Timbercity Oudtshoorn; Anroux Marais, Wes-Kaapse minister sport en kultuur; David Bellairs, uitvoerende hoof Cape Town Cycle Tour en Johan Allers, Speaker van die Groter Oudtshoorn Munisipale raad.

Ontwikkelingsryers van die Bridgton Cycling Club, onder die vaandel van Eden Fietsry, was goed verteenwoordig.

Aksie tydens die Elite Mans-fietsren.

Aksie tydens die Elite Vroue-fietsren.

Baie dankie aan die volgende borge:
Hoofborg: Timbercity
• Alert Patrol • Ostrich Emporium • DCAS • Eden Fietsry • Oudtshoorn Munisipaliteit • Oudtshoorn Rotariërs • Route 62 Bar and Grill • Kobus se Gat • Renault Oudtshoorn • Mooiplaas • Kleinplaas • TT Vervoer • Jonny Koen Cycles • Excelsior Wine Estate • Leadermans • PPA • Oudtshoorn Spar • Oudtshoorn Spur • Watson en Brink Apteek • Garden Route Casino • Gold Reef City • Kango Grotte
• Highgate Ostrich Farm • Steiner • Cycle Addict • Enchanted Coffee Shop • Karoobrou • Cango Wildlife Ranch • Lakey Enterprises • Dryland • Totalsport