MIN Oudtshoorniete weet dat verskeie verdagtes wat tussen Augustus en Oktober verlede jaar verantwoordelik was vir ’n reeks gewapende rooftogte – vyf voorvalle insluitend Oudtshoorn se eerste transitorooftog – met die hulp van kameras op strategiese plekke in en om die dorp vasgetrek is.
Dit is hierdie kameras, onder meer die license plate recognition (LRP)-kameras, wat tans die in- en uitgangsroetes na en van die dorp asook die Groter Oudtshoorn se landbou-gemeenskap beveilig.
Tans word kameras op elke hoof- en ompad rondom Oudtshoorn gemoniteer, behalwe tussen Schoemanshoek en Matjiesrivier, wat binnekort ook ’n veiligheidshupstoot kry nadat die Kangovalleie Landbouvereniging hul beywer het om daar kameras op te stel.
Die inisiatief het by Laubscher Coetzee, verteenwoordiger van Agri Klein Karoo by Agri Wes-Kaap, ’n klompie jare gelede begin.
Hy sê die kameras kan die dorp en omgewing veiliger vir boere en dorpenaars maak.
“Ek het gevoel ons is hier in ’n baie goeie, veilige area, maar ons is eintlik onvoorbereid. Ek wou nie hê Oudtshoorn moet ’n sitting duck wees en ons nie met die broek om die knieë gevang word as iets gebeur nie. Dit was die eerste groot motivering vir die kameras.”
Die tweede rede vir kameras buite die dorp was om misdaad te bekamp, onder meer smokkelhandel.
“Ons het gehoor dat van hierdie mense deur Oudtshoorn kom of die dorp as ontsnaproete gebruik. Ons het begin met twee kameras, toe naderhand nog, en ek dink daar is nou altesame vyf, veral op toegangsroetes na en van die dorp.”
Volgens hom is die posisies en plasing van die kameras strategies beplan.
“Daar is geen manier dat ’n voertuig kan ontsnap nie.”
Die kameras word deur ’n Kaaapse maatskappy gemoniteer, maar volgens Coetzee het plaaslike sekuriteitsmaatskappye toegang tot die lewendige beeldmateriaal.
Die hele stelsel word dus volgens Coetzee deur die sekuriteitsmaatskappye en Oudtshoorn Polisie ondersteun.
Die projek self is ’n inisiatief waarby Agri Klein Karoo en die Oudtshoorn Besigheidskamer saam ingespring het.
Hierdie kameras is volgens Coetzee van ’n baie hoë kwaliteit en kan tot R20 000 per kamera kos.
Die hoëgehalte beeldmateriaal verseker dat ’n voertuig se nommerplaat gelees en geïdentifiseer kan word.
Die polisie en sekuriteitsmaatskappye se toegang tot die “live feed” verbeter reaksietye op misdaad drasties.
“Almal werk saam om die dorp te beveilig!”
Ook die verkeersdepartement is betrokke.
“Dié kameras en almal se samewerking het reeds groot sukses ten opsigte van misdaad- en verkeersoortredings gebring.
“Dit is alombekend dat ons polisiemag onderbeman is, maar dit help nie ons almal wys net vinger na hulle toe nie.
“Ons moet self iets doen, en ek dink dit is presies wat ons hier gedoen het.
Volgens Hennie-Edna Janse van Rensburg, voorsitter van die Kangovalleie Landbouvereniging, wil hul gemeenskap ook hul deel doen vir die beveiliging van boere en die breër gemeenskap.
Die inkomste van ’n onlangse gholfdag sorg byvoorbeeld gedeeltelik dat ten minste een volledige kamerastelsel vir die Schoemanshoek-omgewing aangekoop kan word.
“Die bestuur het besluit dat inkomste uit ’n dans wat vroeër vanjaar gehou is, sowel as die inkomste uit die gholfdag aangewend sal word vir landelike beveiliging.
“Die aankoop van ’n aantal kameras, wat by die huidige stelsel sal inskakel, begin nou ’n realiteit word.”
Volgens haar sal kameras op strategiese plekke geplaas word tot by Matjiesrivier.
Sy sê daar is ’n behoefte in die Schoemanshoek-gemeenskap vir sulke kameras, en hulle wil graag hul omgewing en die dorp beveilig.
“Misdaad raak ’n probleem, veral met die groot aantal toeriste wat ons gebied besoek en misdadigers wat die paaie kan gebruik om te ontsnap. Dis ’n groot behoefte by ons,” sê sy.
Sy het beklemtoon dat die kameras daar is om nie net die landbougemeenskap is nie, maar die hele dorp te help beveilig.
Abri Ferreira, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer en eienaar van ’n sekuriteitsfima in die streek, sê die kameras is ’n groot aanwins vir Oudtshoorniete en plaaslike besighede se veiligheid.
“Die samewerking wanneer daar ’n voorval is, is wonderlik. Almal reageer en help mekaar.
“Die middedorp gaan ook sulke kameras begin kry om inwoners se veiligheid te verseker.” (Deur Stefan Skapie Goosen)
Kollig op sekuriteit: So help landbou-sektor om dorp te beveilig
