Oudtshoorniet en spanmaat takel Trek

Oudtshoorn se Yolande de Villiers wat saam met haar spanmaat, Stephanie Wohl­ters, die naaswenners was van die vroue­afdeling, tydens die Cape Pioneer Trek. Foto: ZCMC.co.za

Die pragtige Klein Karoo en aangren­sende Suid-Kaap was verlede week die gas­heer vir die gewilde Cape Pioneer Trek wat Saterdag op Oudtshoorn ten einde geloop het. Links is bergfietsryers op pad na die Swartbergpas in die omgewing van Wildehondekloof. Foto: Sage Lee Voges

Oudtshoorniet Yolande de Villiers (regs) en haar spanmaat Stephanie Wohlters klink ’n glasie by die eindstreep nadat hul die laaste skof van die Cape Pioneer Trek gewen het. Foto: Stefan Skapie Goosen

OUDTSHOORN se eie Yolande de Villiers en haar spanmaat Stephanie Wohlters het Saterdag die sesde skof van die Momentum Medical Scheme Cape Pioneer Trek, aangebied deur Biogen, se Elite Vroue-klas wat voor die Queen’s Hotel op Oudtshoorn geëindig het, gewen! Dit was die laaste skof van hierdie uitmergelende bergfietsren wat oor sewe dae beslis is.

Al het De Villiers en Wohlters vinnige werk gemaak van die laaste deel van dié wêreldbekende bergfietsren – wat ruiters van regoor die wêreld na die Klein Karoo en Tuinroete lok – het hulle algeheel tweede geëindig agter Theresa Ralph en Kim le Court (Team Efficient Insure Infiniti Racing).

De Villiers en Wohlters het drie skofte altesame ingepalm onder die vaandel van Team Madmacs/Coopet-to/Bester Performance.

Die algehele wenners van die Elite Mans-klas was Marco Joubert en Pieter du Toit (Team Imbuko {type}DEV A), gevolg deur Arno du Toit en Keagan Bontekoning (Team Insect Science Pro).

Die laaste skof van die fietsren was sekerlik een van die opwindendste oomblikke van die Trek, omdat die algehele voorlopers na aanleiding van die vorige skofte in beide die mans- én vroue-klasse pap bande in skof ses opgedoen het.

Gelukkig was die voorsprong wat hulle opgebou het oor die vorige skofte genoeg om hul algehele oorwinnings te verseker. Die mans top-drie is afgerond deur Wessel Botha en Rudi Koen (Imbuko {type}DEV B), en die vroue-klas deur Ila Stow en Robyn Williams (Clickatell). (Deur Stefan Skapie Goosen)