Oudtshoorn Jukskei gaan van krag tot krag

Die vier spelers van Oudtshoorn wat Eden gaan verteenwoordig in Moorreesburg is van links Florine Zeeman, Magda Davel, Bertus Nel en Jossie Nel. Foto: Verskaf

Oudtshoorn se Jukskeiklub het verlede Saterdag ’n opedag by die De Jager Sportsentrum in Oudtshoorn aangebied.

Spanne van Danabaai, Riversdal, Stilbaai en Hartenbos het saam met Oudtshoorn se jukskei- spanne aan die dag deelgeneem. Daar was altesaam 14 spanne teenwoordig.
Vier spelers van Oudtshoorn, Florine Zeeman, Magda Davel, Bertus Nel en Jossie Nel, verteenwoordig Eden op 30 November by die Interdistrik Toernooi in Moorreesburg.

Hercules Kritzinger en Florine Zeeman, wat besig is met hul skeidsregterskursus, het Saterdag vir die eerste keer as skeidsregters opgetree en hul goed van hul taak gekwyt.

Die wenners van die dag in die verskillende afdelings was: Afdeling B1 – Hartenbos 1 (1ste), Riversdal (2de) en Hartenbos 2 (3de). Afdeling B2 – Danabaai (1ste), Hartenbos 4 (2de) en Hartenbos 3 (3de). Afdeling C – Danabaai 2 (1ste), Danabaai 1 (2de) en Oudtshoorn 3 (3de). (LINDI BRILL)