Drie Oudtshoorniete draf Ironman kaf

Yolande de Villiers, Rouxle Cilliers en Elizabeth Lourens van Team Bliss het eerste plek gewen in die Vroue-aflos. Foto: Verskaf

Drie Ysterman-vroue van Oudtshoorn het verlede naweek die eerste plek in die afdeling vir vroue-aflosspan in die Isuzu Ironman 70,3 in Mosselbaai gewen.

Team Bliss, bestaande uit Yolande de Villiers, Rouxle Cilliers en Elizabeth Lourens, was die eerste vroue-aflosspan oor die wenstreep met ’n tyd van 5:29:29. Algeheel het hulle 145ste uit 1 983 spanne geëindig.

In die aflos het Rouxle 1,9 km geswem. Yolande het die 90 km fietswedren gery en Elizabeth het die 21,1 km halfmaraton kafgedraf. (LINDI BRILL)