FJ bult sy spiere in Kaapstad

Onder: FJ tydens die kompetisie in Kaapstad waar hy 1ste plek in die Beginnersklas gewen het en 3de in Klas-B geeïndig het. Bo: FJ soos hy gewoonlik lyk en die meeste Oudtshoorniete hom ken. Foto’s: Lindi Brill en Verskaf

FJ Pretorius het op 26 Oktober aan die Icandy Classic Mother City-liggaamsbou kompetisie deelgeneem.

Hy het aan twee kategorieë deelgeneem naamlik die Beginnersklas en Klas-B. FJ het teen 15 ander atlete in die Beginnersklas meegeding, en met die eerste plek weggestap.

Met die Klas-B kompetisie word die deelnemers ingedeel volgens lengte en gewig. Hy het ingeweeg onder 84,8 kg, en derde geëindig. Daar was 9 atlete saam met hom in hierdie klas. Volgens FJ het hy vier jaar gelede met liggaamsbou begin en doen hy slegs een kompetisie per jaar.

“Die voorbereiding vir so ’n kompetisie is geweldig intensief. Dit word ’n leefstyl, want jy moet elke dag sorg dat jy reg eet en oefen”,

Met hierdie kompetisie in die Kaap het hy gekwalifiseer om in Johannesburg te gaan deelneem, waar hy sy Pro-kaart kan verdien. Weens omstandighede rondom die nuwe Spar wat einde Oktober geopen het en waarvan hy die bestuurder is, gaan dit vir hom moeilik wees om tyd te maak vir die voorbereiding vir die kompetisie.

“Ek het wel besluit om nie Desember in Johannesburg te gaan deelneem nie aangesien die nuwe winkel baie van my tyd in beslag neem,” het FJ aan Die Hoorn gesê.

Om vir so ’n kompetisie voor te berei moet jy ten minste ses weke vooraf jou dieet streng dophou.

Hoë proteïene, laevet etes wat meestal bestaan uit eierwitte, ekstra maer maalvleis en hoenderborsies vorm die grootste gedeelte van jou dieet.

’n Week voor die tyd neem hy ook tot 8 liter water per dag in, wat geleidelik verminder word soos wat die kompetisiedag nader kom. Soutinname is ook baie belangrik, sê hy.

Volgens hom oefen hy sy kardio in die oggende op ’n leë maag, en middae oefen hy met gewigte.

FJ is ’n gekwalifiseerde Sportdieetkundige, wat hom natuurlik baie help met sy voorbereiding vir kompetisies. Op ’n vraag wat die eerste ding was wat hy geëet het na die kompetisie, was sy antwoord dat hy dadelik vir hom ’n Krispy Kreme-oliebol gekoop het. (LINDI BRILL)