Nico-Meyer wys hakskene vir res

Nico-Meyer le Roux en sy perd BK Habanero het die stof behoorlik laat spat. Foto: Johanette Photography

DIE Outeniqua Uithouritklub se eerste perde-uithourit, die KBBO De Rust Uithourit op 8 en 9 April, was volgens die klub se sekretaresse, Angelique Erasmus, ’n groot sukses.

Volgens Erasmus het slegs vyf van die bykans 50 deelnemers en hul perde tydens die rit uitgeval.
“Ruiters het almal kommentaar gelewer dat alhoewel die roete baie tegnies was, die baan se natuurskoon
baie mooi was, en die baan goed gemerk was,” het sy gesê.

Erasmus het bygevoeg dat 16 ruiters vanaf Oudtshoorn was, en dat 19 van die nuutgestigte klub se lede deelgeneem het.

Die bekende Nico-Meyer le Roux en sy perd BK Habanero, wat die liggewig-afdeling gewen het, was ook die vinnigste algehele ruiter van die naweek, en het die stof behoorlik laat spat met sy vertoning.

Met ’n tyd van 3 ure 50 min het hy 5 minute voor sy naaste teenstander oor die eindstreep gery, en daarmee ’n baanrekord opgestel wat moeilik volgens Erasmus verbeter sal word in die toekoms. Die res van die uitslae per afde-ling met ruiters in volgorde van eerste tot derde soos volg: Liggewig – Nico-Meyer le Roux, Lara le Roux (Stenco Botox), Michael Vaaltyn (Welbedach Jamal).

Standaardgewig – Stephanie De Jager (SMP Tyson, tweede algeheel), Bianca Venter ( Zamir, derde algeheel), Mabet Cilliers (Etosha).

Swaargewig – Mariette Gel-denhuys (Mahrento Sonador), Coenraad le Roux (Shabach Arabella). Jongruiter – Anche Muller (Saruk Maverick), Petra Crafford (Koringkloof Sabra). Kinderuiter – Hendré Geldehuys (Mahrento Mona), Lea Muller (Rafara). (Deur Stefan Skapie Goosen)