DIE lusernbedryf in die Klein Karoo is volgens kundiges een van die belangrikste ekonomiese en landbouslagare van die streek.
Op Oudtshoorn is dit een van die gewasse waarin die meeste handel gedryf word.
Al was die afgelope aantal jare moeilik, met veral die voortslepende, neerdrukkende droogte wat diegene in die bedryf hard getref het, glo kenners dat daar goeie jare vir die lusernhooi- en lusernsaad-bedryf voorlê.
Die Hoorn het met kundiges in die lusernbedryf, Sunet Vermeulen-Fenthum, uittredende bestuurder van die Nasionale Lusern Trust (NLT), Cornel Landman, eienaar van Karoo Lusern en David Malan, besturende direkteur van Klein Karoo Saadproduksie, oor verskillende aspekte van die bedryf gaan gesels.
Sunet Vermeulen-Fenthum: Alle Suid-Afrikaanse lusernsaad beweeg deur Oudtshoorn
Volgens Vermeulen-Fenthum is die NLT, met sy hoofkantoor op Oudtshoorn, die toesighouer en reguleerder van die lusernbedryf in Suid-Afrika.
Onder die NLT word lusern, lusernsaad en lusernhooi gereguleer, en meer onlangs het die NLT met gradering van lusern begin wat kwaliteit bepaal en verseker.
Hulle sien dan ook om na boere se belange, en werk met uitvoere van Suid-Afrikaanse lusern na onder meer Saoedi-Arabië, China en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE).
“Alle lusernsaad, wat reg oor die land geproduseer word, kom deur ons kantore hier op Oudtshoorn. Die saad moet ’n suiwerheids- en ontkiemingsertifikaat kry en word heffings daarvoor betaal. “Met daardie geld word onder meer administratiewe koste, navorsing, kwaliteitstelsels wat onderhou moet word en transformasie gedek.”
Sy sê in die verlede het alle saadproduksie in die land in die Klein Karoo plaasgevind.
“Ongeveer sewe jaar gelede het ons 800 000 kilogram saad ingekry, maar vanjaar gaan ons nie eens 100 000 kilogram ontvang nie, glo ek.”
Vermeulen-Fenthum sê dat lusernsaadproduksie die afgelope jare weens onder meer die droogte afgeneem het, maar dat die bedryf besig is om te herstel.
“Ons het die laaste ruk ’n bietjie reën gekry. En al het die lande onder die droogte begin ly, sal ons dit hopelik kan begin hervestig.”
Tans kom die meeste saad uit die Boland.
Die meeste van die NLT se fokus, volgens Vermeulen-Fenthum, is nou gevestig op die lusernhooibedryf.
Voorheen was dit byna onmoontlik om te bepaal wat in die bedryf aangegaan het, sê sy, en daarom het die NLT ’n graderingstelsel ontwikkel, en gedurende 2008 is die Nasionale Lusernhooi Graderings- en Kwaliteitskema geïmplimenteer.
“Ons het nooit geweet wat die werklike samestelling van die hooi was nie, en het toerusting ontwikkel wat daarmee kan help. Só kan ons die kwaliteit van die hooi verseker, en gradering toepas. Dit help nie net die boere wat plant nie, maar ook boere wat die hooi of lusern aankoop om te bepaal watter voedingswaarde hulle uit die produk kan kry,” sê sy.
Fritz Rupping het onlangs by Vermeulen-Fenthum oorgeneem as bestuurder van die NLT.
Cornel Landman: Kwaliteit van lusern hang af van genoeg water
Die gehalte van lusern en hooi is iets waarvan Cornel Landman baie kennis dra. As iemand wat lusern en hooi verbou, verbruik en vervoer, weet hy hoe belangrik kwaliteitprodukte is.
In die verlede, sê hy, was die Klein Karoo die topproduseerder van lusern. “As ons weer die reën begin kry wat ons voorheen gekry het, sal hierdie omgewing terugstaan vir geen ander nie!”
Gehalte lusern hou volgens Landman verreikende gevolge vir enige boer se diere in. Die belang van ’n produk van gehalte is onmeetbaar.
Die gehalte daarvan word egter hoofsaaklik bepaal deur hoeveel water beskikbaar is. Landman glo as daar genoeg water is, sal die voordele vir die omgewing se ekonomie onskatbaar wees.
Boere sal meer kan aanplant met meer werk wat geskep sal word, en meer geld wat in die ekonomie ingestoot word.
Lusern, as voer vir diere, is ’n stapelgewas vir boere, en daarom is dit so belangrik dat gehalte lusern gekweek moet word. Dit kan ook vleis- en melkproduksie beïnvloed.
Volgens Landman is daar baie faktore wat die gehalte bepaal, soos byvoorbeeld wanneer geplant moet word, wanneer gewei moet word, en wanneer gesny moet word.
“Jou lusernlanderye moet tussen weidings en die sny daarvan herstelkans kry. As die landerye dit nie kry nie, gaan dit die groeisiklus baie verkort, en so ook die gehalte. Die nuwe graderingstelsel maak dit nou baie makliker vir boere om lusern en hooi van hoë gehalte aan te koop.”
“Oudtshoorn se grond is baie diep en van die beste grond in die hele land, maar ons het steeds water nodig. As Oudtshoorn normale reën kry, en ons kan vier tot vyf keer deur die jaar water lei soos benodig word, staan ons nie ’n tree terug vir ander boere nie. Ons sal dan betyds kan sny, en gehalte nastreef, in plaas daarvan om volume voorop te stel.”
David Malan: SA Standaard-saad is beslis die beste in hierdie geweste!
Lusern kom natuurlik van ’n saad af, en in hierdie geweste is dit SA Standaard- of SA Select-saad wat koning kraai.
Dit is hier waar Malan, wat reeds 27 jaar in die saadbedryf werk, die kenner is.
Volgens hom was Oudtshoorn in die verlede die kern van saadproduksie in die land, maar is dit nie meer so nie.
Hy sê SA Standaard-saad is die beste uit die meer as 50 kultivars lusernsaad in die land, omdat dit eintlik ’n landras is.
Hy beskryf die verskil tussen ’n landras en kultivar so: ’n landras is saad wat deur natuurlike prosesse of seleksie ontstaan het, terwyl ’n kultivar iets is wat deur die mens gekweek is.
Hierdie landras word volgens Malan al meer as 50 jaar in Suid-Afrika geproduseer, en is dit in die Klein Karoo hoofsaaklik vir volstruisvoeding gebruik.
“Dit was vir baie jare die primêre kultivar in Suid-Afrika, vir beide lusern- en saadproduksie, al was daar ander kultivars beskikbaar, en nog kultivars wat steeds ontwikkel word,” sê hy.
Dié kultivars word in spesifieke dormansie-groepe opgedeel, en SA Standaard veral val in die groep kultivars waarvan die groeipunte ondergronds is, wat bete-ken diere trap dit nie maklik dood nie.
“Dit lyk eers asof daar byna niks op die landerye is nie, maar dan begin dit reën en die lusern loop uit!
“Dit is ook ’n baie geharde saad, wat veral in die Klein Karoo gepas is met die droogtes en beperkte reën.
Daarom is SA Standaardsaad goed aangepas vir die omstandighede waaronder boere hier moet aanplant.”
Uit hierdie saad, sê hy, kan ’n boer tot vyf of ses snysels kry, maar dat water natuurlik van kardinale belang hiervoor is.
“SA Standaardsaad word nog altyd in Suid-Afrika beskou as die leier op die gebied van weidingskultivars – dit is gehard, het ’n uitstekende vermoë om te oorleef, en kan baie jare oorleef. Ander dormansie-groepe oorleef tussen drie en vyf jaar lank, afhangende van hoe goed daarna gekyk word. SA Standaard kan beslis vir vyf jaar en langer oorleef, indien daar goed daarna gekyk word.”
Malan sê dat elke boer wat SA Standaardsaad produseer, dit tot op ’n punt vir hooi oes, en dan los hulle dit verder vir saad om te ontwikkel.
“Op daardie manier verdien die boer inkomste uit hooi. Hy kry voer vir sy diere, en dan oes hy vir saad wat hy òf self gebruik, òf kan verkoop.” (Deur Stefan Skapie Goosen)

’n Pragfoto van lusernbale uit die lug geneem. (Foto verskaf)