Nico-Meyer maak naam by uithourit

Nico-Meyer Le Roux (links) en sy suster Lara. Foto: Joh@nette Photography

Nico-Meyer Le Roux pronk reeds jare-lank op sportblaaie as bobaas perde-ruiter, en palm al uithourit-kampioenskaptitels in sedert sy tienerjare.

Vanjaar, 2021, is geensins anders vir die boerseun van Kommandantsdrift buite Uniondale nie, met sy onlangse oorwinning in Bloemfontein van die uitmergelende Interprovinsiale Kampioenskap oor 200 km waar hy vir die WP deelgeneem het. Hy behoort aan die Garden Route Endurance Club.

Die 23-jarige oud-leerling van Langenhoven Gimnasium, en sy hings Laska, het die afgelope naweek teenstanders van Noord-Wes, WP, KwaZulu-Natal, Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga uitgestof om met die standaardgewig-titel weg te stap.

Met sy tyd van agt ure, 6 minute en 28 sekondes – ’n volle 26 minute voor die ruiter in die tweedeplek – het Nico-Meyer ook die algehele eerste-plek gewen.

Volgens sy ma, Petro le Roux, het die rit oor drie dae gestrek, en het Nico-Meyer van die eerste dag af voorgeloop.
“Teen dag twee was dit duidelik dat hy ver voor was en nie sommer ingehaal sou word nie, tensy daar fout sou gegaan het,” vertel sy.

Dag drie was volgens die trotse moeder ’n baie koue en nat dag in Bloemfontein, maar haar seun het nie opgegee nie.

“Met ses vet checks (veearts-punte) reeds agter die rug en nog twee wat voorlê het Nico-Meyer en Laska nog ’n gróter voorsprong voor hulle en tweede standaardgewig-deelnemer van die Noordwes-provinsie opgebou,” sê sy.

Dit was as’t ware die spyker in sy teenstanders se doodskis en is Nico-Meyer los voor oor die wenstreep.

Volgens Le Roux het haar seun en sy perd ook die Best Condition-toekenning ontvang, en so ook Best of the Best gewen.

Hierdie toekenning word toegeken aan die perd wat ná die uithourit nog in die beste toestand is.

“Ons is baie trots op hom, en Laska,” sê Le Roux.

• Nico-Meyer en sy merrieperd Stenco Benito het in 2015 die Fauresmit-uithourit algeheel gewen en die baanrekord wat toe reeds 18 jaar bestaan het, verbeter. Hy was toe net 17 jaar oud.

Hy het dieselfde uithourit in 2018 ook gewen. In 2019 het sy en sy suster Lara se perde albei eerste oor die wenstreep gedraf. Nico-Meyer het toe die standaardgewig- en Lara die liggewig-afdeling gewen. (Deur Stefan Skapie Goosen)