Naamverandering van ‘Rec’ voordelig vir dorp én sport

DIE naamverandering van die Oudtshoorn Sportgronde, alom-bekend vir inwoners van die dorp as die “Rec”, gaan nie net voordele vir sportmanne en -vroue inhou nie, maar vir die dorp as geheel.

Dit is die boodskap wat Albertus Kennedy, uitvoerende hoof van SWD Krieket, vandeesweek oorgedra het nadat die sportliggaam se titelborg, Six Gun Grill aangekondig het dat die

Sportgronde herdoop word na die Six Gun Grill Recreational Ground. “Borgskappe soos hierdie wys die vertroue van die besigheidsektor in ons maatskappy,” het hy gesê.

Die aankondiging is reeds Maandag (8 Augustus) deur Crown National Food Group se besturende direkteur, John Morris gemaak. Hierdie maatskappy besit die Six Gun Grill handels-merk.

Volgens Kennedy gaan hierdie borgskap onder meer beteken dat SWD Krieket beter kontrakte vir spelers sal kan aanbied, dat hulle hul spanne beter sal kan voorberei, ’n inspuiting vir krieket-ontwikkeling beteken, en ook meer geleenthede skep vir die dorp om bemark te word.

“Dit sal moontlik teweeg bring dat meer hoë-profiel wedstryde hier aangebied word, wat nie net SWD Krieket sal bevorder nie, maar die dorp ook. Hierdie tipe wedstryde word nie net nasionaal nie, maar internasionaal uitgesaai. Dit sal vir die dorp baie blootstelling bring,” het hy gesê.

Kennedy het bygevoeg dat dit algemene gebruik is vir hoë-profiel krieketspanne om borge te kry.

“Dit gaan ook help daarmee om addisionele befondsing op ons inkomstestaat te wys, buiten dit wat van Krieket Suid-Afrika (KSA) af kom. Ons is hoofsaaklik afhanklik van KSA se befondsing,” het hy bygevoeg.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit, eienaar van die sportgronde, het volgens ’n pers- verklaring van SWD Krieket toestemming verleen vir die naamverandering. (Deur Stefan Skapie Goosen)