

OUDTSHOORN se sportvelde was die afgelope week so te sê die middelpunt van rugby-aksie in die streek met wedstryde wat Dinsdag en Saterdag (9 en 13 Augustus) op die dorp gespeel is.
Collegians en Spring Roses se A-spanne het mekaar Dinsdag op die Bridgton Sportgronde, bekend as die Plate, die stryd aangesê, met Collegians wat oortuigend met 38 – 21 seëvier het.
Die halftyd-telling tussen hierdie twee spanne het op 21 – 7 gestaan. Teen die einde van die wedstryd is altesaam agt drieë tussen die twee spanne gedruk.
Saterdag se kragmetings was tussen Bridgton Rugbyklub en Progress, ook op die Bridgton Sportgronde, en die All Blacks teen Prins Albert op die Oudtshoorn Sportgronde.
Die tellings tussen Bridgton en Progress het soos volg gelyk: Bridgton se C-span verloor 3 – 33; hul B-span verloor 11 – 17; en die A-span verloor 3 – 24.
In die All Blacks-spanne se kragmetings teen Prins Albert op die Rec, soos die Oudtshoorn Sportgronde bekendstaan, het die All Blacks se B-span met 21 punte teenoor 11 gewen.
Die A-span se wedstryd was sekerlik een van die beste hierdie seisoen, met die All Blacks wat 66 – 7 voorgeloop het teen die einde van die wedstryd. (Deur Stefan Skapie Goosen)