Moonlight Sokkerklub sterkop pad na SAFA-kampioenskap

Foto verskaf

Moonlight Sokkerklub het hul aanspraak op die kampioenskap van die SAFA Eden Hollywoodbets Streeksliga verder verstewig na ’n uiters suksesvolle naweektoer na George, waar hulle twee oortuigende oorwinnings behaal het teen Simunye en Paris United FC.

Volgens die jongste punteleer van 26 April 2026 beklee Moonlight die eerste plek met 55 punte uit 24 wedstryde. Hierdie indrukwekkende prestasie beklemtoon hul konse-kwentheid deur die seisoen. Met 18 oorwinnings, een gelykopuitslag en vyf nederlae, tesame met ’n gesonde doelsaldo van +31, staan die span duidelik kop en skouers bo hul naaste teenstanders uit.

Die naweek se aksie het afgeskop met ’n kragmeting teen Simunye, waar Moonlight van die eerste fluitjie af hul oorheersing gewys het. Binne die eerste vyf minute het Cornelius Bessie sy stempel afgedruk met twee blitsige doele wat die toon vir die wedstryd aangegee het. Sy skerp afronding het Simunye vroeg onder druk geplaas en Moonlight die nodige selfvertroue gegee om beheer oor die spel te neem.

Barenito Lewis het later die voorsprong uitgebrei met ’n goed afgeronde doel, wat die span ’n gemaklike 3–1 oorwinning besorg het.

In hul tweede wedstryd teen Paris United FC het Moonlight hul momentum voortgesit met nog ’n dominante vertoning. Lewis het weer uitgeblink deur twee keer aan te teken, terwyl Jayden Swartbooi ook sy naam op die telbord gekry het.

Die 3–0 oorwinning het hul posisie as voorlopers verder verstewig. Wat Moonlight besonder maak, is nie net hul resultate nie, maar ook hul diepte en ervaring.

Met meer as 15 jaar se deelname in die streeksliga het die klub ’n kultuur van dissipline, deursettingsvermoë en ontwikkeling gevestig. Dit dien as ’n belangrike platform vir jong spelers om hul talent te slyp en waardevolle wedstrydervaring op te doen.

Die klub se voorsitter het sy trots uitgespreek oor die span se prestasies, maar ook gewys op die uitdagings van volhoubare bestuur.

’n Oproep is gedoen aan plaaslike besighede en die gemeenskap om die klub deur borgskappe te ondersteun.

“Hierdie jong spelers het enorme potensiaal. Met die regte ondersteuning kan ons nie net op die veld presteer nie, maar ook ’n blywende impak in die gemeenskap maak,” het die bestuur gesê. (GRANWILLE GOLIATH)