DIE Meiringspoort Challenge, wat beide veldwedlope en bergfietsrenne insluit, het Saterdag (21 Mei) meer as 560 deelnemers na De Rust gelok om in die skouspelagtige natuurskoon van die Klein Karoo te kompeteer.
Volgens Leanne Schoeman, woordvoerder van die organiseerder, was die 2022-weergawe van die Challenge ’n baie suksesvolle geleentheid.
“Dit was ’n groot verbetering op verlede jaar toe ons nog onder streng inperkingsmaatreëls was, so dit was baie naby aan ’n ‘normale’ event vir ons,” het sy gesê.
Schoeman het bygevoeg dat, al was daar reën vroeër die week voor die tyd, alles betyds opgeklaar het en die weer verder gesorg het vir ’n perfekte dag.
“Ons het vanjaar ook ’n groot toename in e-bikes en tandemfietse gehad.”
Deelnemers kon vanjaar aan veldwedlope van 9,5 en 19,5 km, en bergfietsrenne van 19,5, 38 (nuwe afstand) en 61,5 km deelneem. Volgens Schoeman het die Challenge ook gekwalifiseer as ’n Eden XCM (cross country marathon), “wat baie opwindend is.”
Die wenners in die afdeling vir veldwedlope is soos volg:
• 19,5 km: Manswenner – Lloyd Bosman in 01:25:00. Vrouewenner – Melissa van Rensburg in 01:54:32.
• 9,5 km: Manswenner – Francois Maquassa van Oudtshoorn in 34:46. Vrouewenner – Annatjie Botes in 01:01:35.
Die vinnigste deelnemers in die afdeling vir bergfietse is as volg:
• 61,5 km: Manswenner – Zandré Gerber in 02:19:45. Vrouewenner – Chantelle Bosch in 02:58:00.
• 38 km: Manswenner – Alec Coleske en Streicher Swart, beide in 01:20:34. Vrouewenner – Iandrie Du Plessis in 01:42:30.
• 19,5 km: Manswenner – Daniel le Roux in 42:07. Vrouewenner – Nadia Van Wyk in 46:44. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Meer as 500 takel Meiringspoort
Melissa Van Rensburg (links) en Lloyd Bosman was onderskeidelik die “King and Queen of the Hill” van die Meiringspoort Challenge, en het elk eerste geeïndig in hul afdelings van die 19,5 km-veldwedloop.
(Foto verskaf)