SPORTFEDERASIES in die Eden-distrik het op 16 Mei ’n welkome finansiële inspuiting ontvang toe die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport (DKS) ’n tjek van R2 975 000 oorhandig het.
Die DKS se jaarlikse seremoniële tjekoorhandiging is vanjaar in Mosselbaai gehou, met Wes-Kaapse minister Anroux Marais wat die amptelike oorhandiging gedoen het. Die byna R3 miljoen sal 36 verskillende sportfederasies in die distrik ondersteun.
Van die Oudtshoorn-gebaseerde sport-federasies wat sal baat by die brood-nodige befondsing is onder meer Eden Tweekamp, Eden Fietsry, SWD Krieket en SWD Trompoppies.
Volgens Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden Tweekamp, word hierdie fondse hoofsaaklik toegeken vir administrasie-, ontwikkelings-, transformasie-, en kapasiteitsboudoeleindes, en ook vir die aanbied van topbyeenkomste.
Van der Walt sê dat daar baie duidelike riglyne aan die besteding van die fondse gekoppel word, en dat behoorlike monitering en terugvoering ook daaraan verbonde is. “Na elke projek moet ’n volledige verslag aan die DKS besorg word. Elke jaar in Januarie moet elke sportfederasie tydens ’n tri-laterale gesprek tussen die betrokke federasie, die DKS en die Eden Sportraad terugvoering gee oor hoe die fondse bestee is,” sê Van der Walt. Hy voeg by dat, sover bekend is, daar min provinsies in die land is wat die Wes-Kaapse model volg.
“Al ses distrikte in die Wes-Kaap; naamlik Eden, Overberg, Sentraal Karoo, Wynlande, Kaapstad en Weskus, word op hierdie wyse ondersteun. 35 van die 36 Eden sportfederasies was vanjaar teen-woordig, wat dui op die erns waarmee sportadministrateurs in Eden sport opneem.” (Deur Stefan Skapie Goosen)
Byna R3 miljoen vir sport in Eden
Verteenwoordigers van die talle Eden sportfederasies wat kon deel in die seremonie. (Foto verskaf)