Die Black Mountain CrossFit-span van Corné Hoffman, Riekie Erasmus, Melanie Verlinde en Bert Verlinde - almal van Oudtshoorn - het die afgelope naweek 14de uit 16 in die nasionale Fittest in Cape Town-kampioenskap geëindig en is daarmee ook as “rookies”, of nuwelinge, van die kompetisie aangewys. Spanne moes deur ’n aantal rondtes kwalifiseer om aan hierdie kampioenskap deel te neem wat ook as die Afrika CrossFit-kampioenskap dien. Elke individu in die span moes dan sewe uitputtende fisieke toetse voltooi. Meeste van hul teenstanders is volgens Bert reeds tussen vyf en agt jaar lank betrokke, wat die Black Mountain-span se prestasie soveel meer indrukwekkend maak omdat hulle slegs twee en ’n half jaar saam deelneem. “Die uitslag is nie vir ons die belangrikste nie, maar wel die voorreg om te kon deurdring en deelneem aan so ’n groot byeenkoms. Ons bring ’n magdom ondervinding terug Oudtshoorn toe!” het hy gesê. (Foto verskaf)