Baartman vereer

Ottneil Baartman in aksie. (Foto verskaf)

AL het die 28-jarige snelbouler van Oudtshoorn, Ottneil Baartman, eers in Januarie vanjaar sy Protea-kleure vir sy vernuf op die krieketveld verdien, palm hy reeds die toekennings in en het hy vroeër vandeesweek die Makhaya Ntini Power of Cricket Award ontvang.

Die voormalige SWD-speler het hierdie toekenning, die eerste van sy soort, tydens Krieket Suid-Afrika se jaarlikse toekenningseremonie ontvang, wat virtueel aangebied is.

Krieket kan vaardighede en selfvertroue by spe­lers ontwikkel, maar dit vereis ’n sekere toewyding en harde werk om op die hoogste vlak te slaag. Baartman se toewyding om uitnemendheid na te streef met ’n krieketbal in die hand, is ’n bewys van die krag van krieket.

Hy het reeds baie ervaring op plaaslike-vlak opgedoen. As ’n produk van SWD krieket, het die medium-snelbouler in slegs 16 eersterangse wedstryde 50 paaltjies laat kantel. Daarna het hy sy eerste professionele “franchise”-kontrak in 2015 by die Knights geteken. Wat gevolg het, was ’n skuif na die Dolphins in 2020. Sy voortdurende vertoning en “never say die”-houding het hom aangespoor tot sy eerste toetsoproep vir die Proteas-groep vir twee wedstryde in Pakistan vroeër vanjaar.

Die inspirasie agter hierdie toekenning is ’n krieketspeler wat in Suid-Afrika se sportgeskiedenis onthou sal word vir die impak, sy oorwel­digende energie en sy buitengewone prestasies in die Protea-trui. Baartman het uitgestyg bo sy plattelandse opvoeding om krieket te regeer, en sy naam is opgeskryf saam met dié van ander legendes op die muur van die Lord’s Cricket Ground.

Be the first to comment on "Baartman vereer"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*