Sy trap dat die stof spat

Bo ry Yolande de Villiers dat die stof staan tydens Sondag se XCO Eden-veldwedren (Foto: Charl Gerber), en regs is sy op die podium waar sy Saterdag se Trans Elands Bergfietsmaraton ook gewen het. Foto: Grant Liebenberg

OUDTSHOORN se eie Yolande de Villiers het die afgelope naweek haar teenstanders in nie net een nie, maar twee fietsrenne uitoorlê en weggestap as kampioen in beide wedrenne.

De Villiers het Saterdag, 5 Junie, die vroue-afdeling van die Trans Elands-bergfietsmarathon oor 160 km gewen, en die volgende dag (Sondag, 6 Junie) kon haar bene dit nog uithou om die eerste plek in die XCO Eden-veldwedren se vroue-afdeling te verower.

Haar deelname aan die Trans Elands het ook ander hoogtepunte gebring – sy kon vir die eerste keer in haar SA Fietsry-kleure deelneem, sy het die vorige rekord met 16 minute verbeter met haar tyd van 6:19:26, en sy is ook aangewys as “Queen of the Mountain”.

Die Trans Elands, wat net buite Jeffreysbaai in die Oos-Kaap gehou word, staan bekend as een van Suid-Afrika se taaiste 100-myl bergfietswed­renne.

Die roete begin en eindig op die oewer van die Gamtoosrivier. Dit sluit onder meer teer- en grondpaaie in, skerp draaie en deelnemers moet die uitdagende taak in die oë staar om “The Never Ender” aan te pak.

Hier moet deelnemers 250 m in die bestrek van omtrent 12 km klim – en dit is maar net een van minstens drie uitmergelende opdraandes wat hulle moet aanpak.

Die XCO Eden-veldwedren in Knysna is ’n perd van ’n ander kleur. Al is dit heelwat korter as die Trans Elands moet deelnemers 4 km-rondtes om ’n vasgestelde veldwedrenbaan by Knysna se Oakhill Skool-sportkampus voltooi in ’n sekere tyd. De Villiers het ses rondtes in 1 uur 15 min voltooi.

Om beide wedrenne in een naweek te wen, is sowaar ’n groot prestasie, maar al wat die nederige De Villiers kan sê daaroor is: “Genade is groot!” (Deur Stefan Skapie Goosen)

Be the first to comment on "Sy trap dat die stof spat"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*