Jong Oudtshoorniet skitter in o.21 Eden hengelspan

BO: Jong Oudtshoorniet Renaldo Hiscock met ’n onlangse vangs. (Foto’s verskaf) ONDER: Die Eden o.21 hengelspan is van links Renaldo Hiscock, WJ Pienaar, Stefan May, Juanco Boshoff, Charl van Pletzen, Eben Swanepoel (gids), Kallie Erasmus (afrigter), Adrian de Bruyn en Johnathan Wiehan.

’N 17-jarige hengelaar van Oudtshoorn maak tans naam in visvangkringe met sy insluiting in die o.21 Eden hengelspan wat tans langs die Weskus deelneem aan die o.21 Rots- en Strand-hengel Nasionale Kampioenskap.

Renaldo Hiscock is op ’n jong ouderdom gekies om deel van die span te wees, al is hy vanjaar eers ’n matrikulant aan Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn.

Renaldo is lid van die Outeniqua Hengelklub, en kan moontlik met hierdie kampioenskap gekies word om Suid-Afrika te verteenwoordig.

Die kompetisie strek oor drie dae, wat agt ure se hengel op die eerste twee dae onderskeidelik insluit, en ’n verdere sewe ure op die laaste dag (Vrydag, 13 Januarie).

Daar word gehengel op Langebaan, Varkensvlei en Soverby. Deelnemers kom van die Boland, Grens, Oostelike Provinsie, KwaZulu-Natal kusstreek en binneland, die Weskus en Wes-Kaap. Die span is saamgestel uit hengelaars van Outeniqua, Mosselbaai, George, Plettenbergbaai en Stilbaai.

Volgens Renaldo se trotse ouers, Maritsa en Ricardo, vang die jong man al sedert die ouderdom van drie jaar oud vis saam met sy pa (Ricardo). “Hy eet, drink en slaap visvang,” skerts hulle.
Die Hoorn sal met Renaldo, die kranige jong hengelaar gesels oor sy ondervinding in die span, en die tipe vis wat hy kon vang sodra hy terug op Oudtshoorn is. (Deur Stefan Skapie Goosen)