Highgate Interprovinsiale byeenkoms lok in 2023 sewe provinsies

VANJAAR word die Departement Kultuur en Sport/Groter Oudtshoorn/Highgate Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms weer op 4 Februarie op Oudtshoorn aangebied. Dit is naas die SA Kampioenskap die grootste tweekampbyeenkoms in Suid-Afrika!

Nie minder nie as 7 of 8 provinsies neem deel. Hierdie byeenkoms lewer ’n groot inspuiting vir die ekonomie van Oudtshoorn. Van die land se top atlete is hier te sien.

Tweekamp bestaan uit swembadswem (25 m, 50 m of 100 m) en baanhardloop (400 m 800 m). By Tweekamp word die tyd behaal in beide die swem en hardloop in punte omgeskakel (dmv ’n gestandaardiseerde puntetabel) en dan bymekaar getel vir die totaal. Vanaf die Meester 40+ word bonuspunte bygereken (tussen 8 en 46 punte per jaar) vir elke jaar wat die atleet ouer is as die aanvangsdatum. 1 800 punte word beskou as ’n billike punt om in aanmerking vir ’n provinsiale span te kom (6 per ouderdomsgroep), maar die finale besluit word deur die keurkomitee geneem.

Die ouderdomsgroepe word volgens die ID van ’n atlete bepaal maar is min of meer as volg: o.8, o.9, o.11, o.13, o.15, o.17, o.19, Juniors, Senior of Ope (enige ouderdom), Meesters 40+, Meesters 50+, Meesters 60+ en Meesters 70+. Die SA Kampioenskap maak slegs voorsiening vanaf o.9.

Die afstande is as volg (hardloop en swem) o.8 (400 m, 25 m), o.9 en o.11 (400 m, 50 m); o.13, o.15, o.17, o.19, Junior, Senior, M40+ en M50+ (800 m, 100 m), M60+ en M70+ is weer 400 m en 50 m onderskeidelik.

Die amptelike seisoen strek vanaf Januarie tot Desember maar die voorseisoen neem reeds in September ’n aanvang.

In Eden word verskeie liga-byeenkomste (5) aangebied asook kapasiteitsontwikkeling, ontwikkelingsklinieke en een interprovinsiale byeenkoms. Die byeenkomste roteer tussen George, Oudtshoorn, Knysna en Mosselbaai.