
DIE 33ste Highgate Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms het die naweek duisende mense na Oudtshoorn gelok vir aksiebelaaide baan- en swemitems op onderskeidelik die De Jager Tartanbaan en by die NA Smit-swembad.
Meer as 540 atlete van sewe provinsies, sowel as hul spanbestuurders, hulppersoneel, families en ondersteuners het op die Klein Karoo toegesak.
Volgens Dave van der Walt van Eden Tweekamp, wat hierdie jaar sy laaste byeenkoms gereël het in samewerking met die Wes-Kaapse departement van sport en kultuur en die Oudtshoorn Munisipaliteit, is die byeenkoms ten spyte van “Eskom se uitdagings” baie suksesvol aangebied.
“Ook ten spyte van die Klein Karoo se hitte het die atlete puik presteer,” het hy gesê.
Beide die Wes-Kaapse minister van sport en kultuur, Anroux Marais, en Oudtshoorn burgemeester Chris Macpherson, het die geleentheid bygewoon.
Van der Walt skat dat daar ongeveer R4 miljoen in die plaaslike ekonomie ingespuit is as gevolg van die byeenkoms.
Teen die einde van die aksie het die Westelike Provinsie die Boland (tweede plek) onttroon as wenspan van die naweek, met die Oostelike Provinsie in derde, en die Eden-span in vierde plek.
Die res van die uitslae lyk soos volg:
Laerskole – Paarl Gim eerste, George-Suid tweede en Durbanville derde.
Hoërskole – Outeniqua eerste , Durbanville tweede en Framesby derde.
Ludorems – Junior Victor, Blake Fisher (OP); Junior Victrix, Shimone van der Merwe (WP); Senior Victor, Michel Archer (WP) en Senior Victrix, Lize-Ann Aucamp (WP).
Die Eden-span spog ook met ’n reeks medaljes van hul eie, volgens Van der Walt. Die medaljewenners en hul kategorië is soos volg:
Goud – S/11 Wanru Haasbroek (verbeter ook die SA Rekord), D/15 Arabelle Grutter, S/15 Carlo Bezuidenhout, SD Jo-mari Smith en SM Reinhard Haupt.
Silwer – S/8 Lian Hattingh, S/13 Llewelyn Viljoen, M40D Liesl Barnard en M60D Anita Louw.
Brons – SM AC Kleynhans en M70M Johan Windt.