EEN van die grootste toutrekbyeenkomste in die land vind Saterdag (4 Maart) plaas by die Vaardigheidskool op Oudtshoorn.
Volgens Gavin Block, prinsipaal van die skool, word daar hierdie jaar 17 skole verwag by die Timbercity Eden Toutrek-kampioenskap verwag.
“Skole vanuit die Overberg en die hele Eden-distrik gaan deelneem. Die aantal spanne wat verwag word is oor die 50 spanne,” het hy gesê.
Die jaarlikse byeenkoms vind plaas by die Oudtshoorn Vaardigheidskool se Sportgronde in Albertstraat. Hierdie byeenkoms word gesien as die gereedmaker vir die Suid-Afrikaanse Junior Toutrekkam-pioenskap wat plaasvind vanaf 23 tot 25 Maart vanjaar, voeg Block by.
“Dit is opmerklik dat al meer skole toutrek as sport aanbied. Plaaslike skole wat gaan deelneem is Laerskool Laurus, Laerskool Wesbank onder die kaalvoet-spanne en die Oudtshoorn Vaardigheidskool se stewel-spanne,” het Block bygevoeg.
Block het gesê dat die hoofafrigter van die Valkies, soos die Oudtshoorn Vaardigheidskoolspan bekendstaan – Jolin-di Jordan – veral optimisties is oor hulle kanse vir ’n medalje in vanjaar se kompetisie.
“Hulle hou egter rekening met groot teenstanders soos Oakdale Landbouskool, Van Kervel Skool, Swellendam Sekondêr, en Swellendam Hoërskool,’ het hy gesê.
“Die dag wat weer deur Timbercity Oudtshoorn geborg word, beloof om goeie kompetisie onder die spanne te bied. Kom maak gerus ’n draai en geniet die heerlike eetgoed wat te koop gaan wees. Oumas, Oupas, en die hele familie is welkom,’ het Block bygevoeg. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Groot toutrek hierdie Saterdag by Oudtshoorn se Vaardigheidskool
Tonele uit verlede jaar se toutrekkampioenskap Foto: Stefan Skapie Goosen