DIE saak teen Felicia Afrika (24) wat aangehou word vir die moord op die rugbyspeler Boutros “Boelie” May (30), is Vrydag (17 Februarie) in die Oudtshoorn Landdroshof vir ’n formele borgtogaansoek tot vandag (Donderdag, 23 Februarie) uitgestel.
Afrika was opsigtelik bewoë toe sy die stampvol hofsaal ingestap het. Sy het voortdurend trane uit haar oë gevee. Haar hare, wat pers was met die vorige verskyning, is intussen pikswart gekleur.
’n Groot betoging teen borgtog het die oggend van haar verskyning buite die landdroskantoor plaasgevind. St Johnstraat is vroegoggend deur die polisie afgesper, en Leon Campher, Oudtshoorn-raadslid en gemeenskapsleier van Dysselsdorp, het die betogers vir langer as ’n uur toegespreek.
“Ons is hier vir Boutros en kan ongelukkig nie vanoggend die familie van die verdagte ondersteun nie,” het Campher gesê.
Hy het ’n striemende aanval op regslui geloods en die landdroste en staatsaanklaers vir die voortdurende misdaad op die dorp blameer.
Volgens hom is baie mense onnodig in die tronk terwyl misdadigers buite rondloop.
“In dié saak gaan ek vra dat ons seker maak ’n regte ondersoekbeampte word aangestel met ’n record wat sy werk reg doen.
“Ons wil aan die einde van die dag sien dat geregtigheid geskied. Die familie moenie ons blameer dat ons hier staan nie. Ek wil nie die verdagte te na kom nie, maar haar familie sal haar nog altyd kan sien terwyl die familie van die oorledene hom nooit weer sal kan sien nie,” het Campher gesê.
Campher het voordat hy die versoekskrif aan hooflandderos Ryan van Harte oorhandig het, aan ondersteuners van die slagoffer se familie gesê die meer as 8 000 mense wat dit onderteken het, is geen waarborg dat borgtog geweier sal word nie.
“Julle moenie kwaad word as borgtog toegestaan word en dan gewelddadig word en met fa-milie van die verdagte baklei nie. Los dit, kom ons wees ordentlik en laat die reg sy reg gaan!”
Die groep het na die uitstel van die saak na die ou Pasella-gebou in Adderleystraat beweeg waar ’n krans gelê is op die plek waar May se moeder Bevedine, verlede Maandag sy bloed met ’n besem afgewas het. (Deur Garnett Wicomb)
Moordverdagte vandag weer in hof
Hordes Oudtshoorniete het Vrydag buite die Oudtshoorn Landdroshof bymekaargekom vir die borgverskyning van die beskuldigde in die moord van Boutros “Boelie” May, ’n geliefde inwoner en lid van die Bridgton Rugbyklub. Inwoners het onder leiding van raadslid Leon Campher ’n petisie met meer as 8 000 handtekeninge oorhandig om borgtog vir die beskuldigde teen te staan. Onder hulle was May se familie. Sy ma, Bevedine May, se trane het onophoudelik oor haar wange gerol. Foto’s: Stefan Skapie Goosen