Saak teen Oudtshoorn-raadslid nou na streekhof

DIE saak teen die raadslid van Oudtshoorn wat van seksuele aanranding aangekla word en se­dert September verlede jaar in aanhouding is, is Dinsdag (21 Februarie) in die Oudtshoorn Landdroshof vir verdere verhoor na die streekhof oorgeplaas.

Die staatsaanklaer, Zelda Jass, het die hof mee­gedeel dat die direkteur van openbare ver­vol­ging (DOV) steeds wag op navrae wat hy aan die staat gerig het.

Daar is egter beslis dat die saak na die streek­hof oorgeplaas word, ten spyte van teenkanting deur landdros Ryan van Harte.

Die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Jur­gen Loff van Liezel Scholtz Prokureurs, het beswaar gemaak teen die verdere uitstel van die saak omdat dit sy kliënt benadeel.

Hy wou redes hê hoekom die saak uitgestel is.

Van Harte het gesê dit is die verdediging se reg om beswaar te maak en Loff aangeraai om met die beskuldigde se eerste streekhofversky­ning op 14 Maart aan te dring op ant­woor­de op die instruksies van die DOV.

Indien dit nog nie uitgevoer is nie, moet Loff ’n aansoek bring dat die saak van die hofrol verwyder moet word. (Deur Garnett Wicomb)