Verkeersaak word oorgeplaas na streekhof

DIE verkeersaak teen elf ver­dag­tes – ses verbonde aan die Oudts­hoorn Verkeersdepartement en vyf aan twee bestuur­skole – wat tereg staan op aanklagte van kor­rupsie, bedrog en oortreding van die Padverkeerswet, is Vrydag in die Oudtshoorn Landdroshof vir verhoor na die streekhof oorgeplaas.

Die saak hou verband met die beweerde onwettige uitreiking van leerlinglisensies en rybewy­se.

Die borgtog van R5 000 aan elk van die nege die verdagtes, Noloyizo Tose (38), Thabo Mgaba (42), Sandile Johnson (44), Warren Coetzee (45), Yo­ande Stalmeester (34), Phumezo Tshomiso (35), Samuel van Han­sen (45), Promises Sovasi (39) en Xolile Gaya (39) is Vrydag deur landdros Stephanie Strydom verleng en die saak is tot 16 Maart vir verhoor in streekhof 2 uitgestel.

Die twee ander verdagtes, Ivan Human (60) en Ingrid Wagenaar, is om mediese redes op waarskuwing.

● Agtergrond: Die saak is verlede jaar tot die afgelope Vrydag uitgestel omdat die ondersoek toe nog nie afgehandel was nie.

Die staatsaanklaer, adv Deolin Willemse, het destyds die hof om uitstel vir drie maande gevra omdat die ondersoek toe nog ver van afgehandel was.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers, adv Benito Me­tembo, adv Zukile Nkulu en Bulelani Bans, het beswaar aan­geteken terwyl landdros Graehymme Williams ook nie baie gelukkig was met die sloerdery van die saak nie.

Metembo het dit aan die hof gestel dat die verdagtes as krimi­nele en oneerlike mense beskou word en reeds deur die gemeenskap skuldig bevind is.

Dit was daarom volgens hom in belang van geregtigheid dat die saak so spoedig moontlik afgehandel moet word.

Volgens hom moes die saak van die hofrol geskrap word indien die staat nie met die volgende hofdatum gereed sou wees om met die verhoor te kon begin nie.

Die landdros het ook sy twyfel uitgespreek dat die ondersoek teen 18 November verlede jaar voltooi sou wees.

Hy het toe voorgestel dat die saak vir nog ses maande uitgestel word. Die saak is daarna, nadat die staat en die verdediging ingestem het, tot verlede week uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)