DIE saak teen die twee verdagtes van Dysselsdorp wat aanvanklik deur die polisie vrygelaat is en later weer in hegtenis geneem is vir die moord op Jacques Liebenberg, is Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof vir ’n formele borgtogaansoek tot 2 Maart uitgestel.
Liebenberg (34) se liggaam is op 12 Januarie vanjaar met veelvuldige steekwonde langs die Kammanassiepad gevind.
Drie verdagtes is die volgende dag in hegtenis geneem.
Een van die verdagtes was Liebenberg se stiefbroer, Herman Redelinghuys (24).
Abraham Swartbooi en Adriaan Isaacs is vrygelaat voordat hulle op 16 Januarie in die hof moes verskyn as gevolg van gebrek aan bewyse teen hulle, terwyl Redelinghuys sy borgaansoek laat vaar het.
Redelinghuys is steeds in aanhouding.
Swartbooi en Isaacs is egter weer Vrydag (17 Februarie) in hegtenis geneem nadat nuwe inligting bekom is.
Die staatsaanklaer, Cameron Rhodes, het hul vrylating Maandag teengestaan, waarna die saak vir ’n formele borgaansoek deur landdros Vaughen Shone tot 2 Maart uitgestel is; dieselfde datum wanneer Redelinghuys ook weer in die hof moet verskyn. (Deur Garnett Wicomb)
Twee van Dysselsdorp weer vasgetrek
Jacques Liebenberg (34). Foto verskaf