Uitstel gee Polisiegeneraal meer tyd om betaling van regspan te finaliseer

DIE saak teen die polisiegeneraal wat teregstaan op sewe aanklagte van cri­men injuria is Dinsdag (21 Februarie) vir ’n vierde keer in die Oudtshoorn Landdroshof uitgestel.

Die saak was vir drie dae se verhoor op die hofrol, maar is tot 20 Maart uitgestel om die beskuldigde kans te gee om die betaling van haar regspan te finaliseer.

Sandra Malebe-Thema (57) word daarvan aangekla dat sy op 7 November 2016 tydens ’n besoek aan die Oudtshoorn Polisie-akademie sewe opleidingsbeamptes na die verhoog geroep en voor sowat 450 rekrute op- en aanmerkings oor hul voorkoms gemaak het – na bewering beledigende opmerkings oor hul kleredrag, gewig en velkleur, onder luide toejuiging van rekrute.

Thema het Dinsdag vir die vierde keer in die hof op Oudtshoorn verskyn en weer ’n keer om uitstel gevra.

Die saak dien voor landdros Ryan van Harte.

Die Hoorn het in Augustus verlede jaar berig dat die verhoor van Malebe-Thema op Donderdag 4 Augustus in die Oudtshoorn Landdroshof op die hofrol geplaas is.

Luidens ’n mediaverklaring van AfriForum is die verhoor hierna uitgestel nadat Malebe-Thema se regs­verteenwoordiger aangedui het haar saak word deur die staatsprokureur hanteer en dat die firma wat haar verteenwoordig, nog nie deur die staats­prokureur goedgekeur is nie.

Die saak is toe uitgestel om vas te stel of die prokureursfirma se aansoek by die staatsprokureur goed­gekeur is en ’n verhoordatum vas te stel.

AfriForum se privaatvervolgings­eenheid het op grond van ’n waaksaamheidsopdrag namens Riana Stander (52), die klaer in die saak, die hofverrigtinge bygewoon.

“Ons is teleurgesteld dat die beskuldigde daarin kon slaag om die verhoor verder te vertraag, aangesien hierdie saak reeds sedert 2016 sloer,” het adv Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervol­gings­eenheid, hierna gesê. (Deur Garnett Wicomb)