Polisie konfiskeer plante, toerusting en nog meer

Bo: Die verwoesting na­dat sowat 60 kan­na­bisplante gekonfis­keer is. Onder: Polisiebe­amp­tes tydens die optrede by Die Oratorium in Oudtshoorn. Foto’s verskaf

TYDENS ’n optrede deur die Oudtshoorn Polisie Vrydag (17 Februarie) by Die Oratorium op Oudtshoorn is minstens 60 kannabisplante, alle toe­rusting insluitend ligte, naamborde, plant­-eti­kette, areanaambordjies en die terreinlêer gekonfiskeer. Niemand is egter in hegtenis geneem nie en geen sake geopen nie.

Volgens Kobus Schoeman, direkteur van Grow One Africa (GOA), ’n nasionale kannabis-organi­sasie wat op Oudtshoorn gestig is en tot dusver ’n onmisbare impak het op die kannabisbedryf en gemeenskappe wat daarby baat vind, het die optrede deur sowat 20 polisiebeamptes omstreeks 12:30 plaasgevind nadat die polisie na bewering ’n klagte ontvang het dat dagga op die eiendom verbou word.

“Ons het aan hulle die relevante papierwerk beskikbaar gestel en die model waarop die projek gebaseer is, probeer verduidelik, maar hulle het voortgegaan om die plante en dies meer te verwyder,” het hy gesê.

Volgens Schoeman is geen lasbrief aangebied nie, en was daar geen inhegtenisnames nie. Hy het gesê daar sal glo ’n dossier geopen word en dan sal die polisie bepaal of enige klagtes gelê sal word.

“Die mense betrokke by die projek is onder omstandighede ‘ok’, maar hulle moet natuurlik steeds die skok verwerk van ’n hele seisoen se tyd, geld, liefde en moeite wat bloot net vernietig is, skaars twee weke voor die oes! ’n Oes wat finansiering sou verskaf het vir verskeie gemeenskapsprojekte wat daar bedryf word,” het Schoeman gesê.

Volgens Schoeman is alle partye betrokke besig om regsadvies in te win oor die pad vorentoe, veral in die lig daarvan dat wette en regulasies rondom kannabis sedert 2018 verander het en steeds in die proses is om deur die Suid-Afrikaanse regering gefinaliseer te word. Hy het gesê dat GOA later vandeesweek ’n meer gedetailleerde persverkla­ring oor die insident sal uitreik.

’n Navraag oor die optrede is aan die Oudts­hoorn Polisie gestuur, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie. Hierdie is ’n ontwikkelende storie. (Deur Stefan Skapie Goosen)