Ek sien net hoe die voëls in die sonsondergang in vlieg, en dink :”Hoe lieflik is dit nie, Ouma?”
Vir jare was my ouma lief vir voëls. Ek onthou toe ek nog so vier jaar oud was, het sy vir my en my boeties stories van voëls oorvertel. Maar daar was altyd hierdie een storie wat sy oor en oor sou vertel, en elke keer was dit dieselfde met net ‘n bietjie van ‘n kinkel. ‘n Storie van die Voëlgesin.
Ek het al vir my ouers oor hierdie familie gevra, en of dit waar was. My pa het net vir my gesê dat die storie van die Voëlgesin bestaan tot vandag toe in ons familie. My ma het vir my gesê die gesin se bloedlyn lewe nog, en dat daar is ‘ n familie is wat deel is van die koninklike gesin. Jy het my reg gehoor, ‘n koninklike familie. Ouma beskryf hulle met mooi indigo vlerke en oë wat wit word wanneer die persoon sestien raak. En wanneer hulle vlieg, is dit asof hulle gebore is vir die lug.
Ek onthou hoe ek nog vir Ouma gevra het hoekom ek hulle dan nooit kon sien nie. Ek bedoel, as hulle regtig gelewe het sou ‘n mens hulle mos kon sien, so hoe is dit dat ek hulle nog nie gesien het nie? Maar Ouma sê net dat ek eendag sal sien en wanneer dit gebeur, sal my hele lewe verander. Nou hoe op aarde sou ek as ‘n tienjarige verstaan wat sy bedoel? En toe ek haar vra of daar boeke is wat ek kan lees wat oor hulle gaan, toe lag sy net en sê dat wanneer die tyd kom, ek maar ‘n boek oor hulle moet skryf.
En net om te dink, ses jaar gelede was ek so nuuskierig om die Voëlgesin te sien. Net om te sien hoe hulle vlieg ,en hoe hulle vlerke werklik lyk. Maar ek moet sê, baie het verander in die laaste ses jaar.
Ouma is verlede jaar oorlede…niemand weet hoe nie. Ma sê dis van ouderdom. My lewe was daarna ‘n bietjie van ‘n gemors. Maar dinge het beter begin gaan toe ek begin verander het. My hare het langer geword, my oë skerper en… wit. En ek het die mooiste twee indigo vlerke.
So hier is ek. Die voëls vlieg in die sonsondergang in en ek dink: “Hoe lieflik is dit nie, Ouma?”
Die voëlgesin
Deur Janique Meyer Gr.11, Langenhoven Gimnasium