DIE Kangovalleie Landbouvereniging se gholfdag van Saterdag was meer as net ’n samekoms van boere en sakelui uit die Oudtshoorn-gemeenskap, met die fondse wat daardeur ingesamel is wat sal bydra tot die oprig van sekuriteitskameras in die Schoemanshoek-omgewing buite die dorp.
Volgens Hennie-Edna Janse van Rensburg, voorsitter van die vereniging, sal die gholfdag wat in ’n 4BBB-formaat op die Oudtshoorn Gholfbaan gespeel is gedeeltelik sorg dat ten minste een volledige kamerastelsel aangekoop kan word. “Die bestuur het besluit dat inkomste wat uit ’n dans wat vroeër vanjaar gehou is, sowel as inkomste uit die gholfdag aangewend sal word vir landelike beveiliging. Die aankoop van ’n aantal kameras, wat by die Groter Oudtshoorn se huidige stelsels sal inskakel, begin nou ’n realiteit word,” het sy gesê.
Die gholfdag is deur meer as 130 gholfspelers en nie-gholfspelers bygewoon, met pryse, gelukkige trekkings en ’n baie opwindende veiling daarby.
Janse van Rensburg sê dat die sukses van die gholfdag grootliks te danke is aan die harde werk van die vereniging se bestuurslede. “Ons is bevoorreg om ’n klompie jonger manne, wie se hande vir niks verkeerd staan nie, as bestuurslede te hê. Voorts het besighede in Oudtshoorn en elders by wie ons bakhand gaan staan het vir pryse, wonderlike pryse geskenk! Ek moet byvoeg dat die Oudtshoorn-gemeenskap ons rerigwaar goed ondersteun het. Ons is baie dankbaar daarvoor en het groot waardering vir die positiewe gesindheid waarmee ons versoeke ontvang is.
“Ons glo dat ons lede en die deelnemers hierdie besighede ook sal ondersteun,” het sy bygevoeg.
Pryse ter waarde van byna R50 000 is op die dag uitgedeel aan die wenners in die verskillende kategorieë en tydens die gelukkige trekkings. Daar is ook onderskeid getref tussen spelers en nie-spelers wat deelgeneem het.
Tydens die veiling is vier baie gesogte pryse opgeveil; naamlik ’n naweek by Moditlo naby Hoedspruit, gholf-ervarings by Pinnacle Point en George Gholfklub; en Whispernet het twee installasies geskenk. “Hierdie veiling het die vereniging se fondsinsameling minstens ’n stewige R20 000-hupstoot gegee!” (Deur Stefan Skapie Goosen)
Gholfdag ten bate van veiligheid
Die wenners van die gholfdag en verteenwoordigers van die Kangovalleie Landbouvereniging van links is Anton Theunissen, Henko Schoeman, Hennie-Edna Janse van Rensburg en Ebenezer Titus.
Foto: Stefan Skapie Goosen