Gewilde Eden Straatmylreeks in Desember

Deelnemers aan die Straatmyl van 2023, wat in Baron van Reedestraat plaasvind. Foto: Die Hoorn argief

Die gewilde Eden Straatmylreeks, aangebied deur die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF), vind vanjaar op 16 en 18 Desember onderskeidelik in Oudtshoorn en Hartenbos plaas. Meer as R40 000 se prysgeld is op die spel.

Die mans- en damesatleet wat die meeste punte verdien stap weg met die Gran Prix-trofee en stewige prysgeld. Straatmyle is deur World Athletics by die Wêreldpadkampioenskappe gevoeg en twee vorige Eden-straatmylwenners, Ryan Mphahlele en Carina Viljoen, het internasionaal deelgeneem. Die Eden Straatmylreeks bied atlete nou die geleentheid om Atletiek SA se keurders te beïndruk vir opname in die SA-spanne.

Die Klein Karoo Atletiekfonds doen baie op die ontwikkelingsfront en beginnersatlete word aangemoedig om ook deel te neem. Atlete kan in vyf ouderdomskategorië in die Eden Straatmylreeks meeding: Jong Talent [2010-2015], Jeug [2007-2009], Junior [2005-2006], Ope en 40+.

Daar is ook ’n prys vir die beste ASWD mans- en damesatleet. As deel van KKAF se ontwikkelings-program, word daar in samewerking met die Sportontwikkelingsdepartement van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit en topatlete, ’n motiveringskliniek in Oudtshoorn op 17 Desember aangebied.

Meer inligting oor inskrywings asook die program is op www.edenmiles.co.za, sowel as op Facebook, beskikbaar. (LINDI BRILL)