Kuite bult by Timbercity fietswedren

Die Elite dames op die podium is van links Yolandie de Villiers (2de), Michaela Lubbe (1ste) en Jackie Davidoff (3de). Foto: Sharon van Straaten

Die 13de Timbercity fietswedren het Sondag, 10 November, in Oudtshoorn plaasgevind. Hierdie jaar het ongeveer 350 ryers, saam met bestuurders, hul gesinne, afrigters, CSA-tegniese amptenare en lede van die Wes-Kaap Fietsry Assosiasie en Eksko, deel gevorm van die wedren. Daar was vyf streke teenwoordig, naamlik Kaapse Metropool, Kaapse Wynlande, Weskus, Eden, en Overberg. Vier provinsies, Wes-Kaap, Oos-Kaap, KZN en Gauteng was teenwoordig.

Die fietsryers het aan die 24 km-, 54 km-, 104 km- en straatmylwedrenne deelgeneem. Hierdie wedren is ook ’n kwalifisering en ‘seeding event’ vir die Cape Town Cycle Tour, vroeër be-kend as die Argus, wat op 9 Maart 2025 in Kaapstad sal plaasvind.

Die weersomstandighede het saamgespeel met koel en bewolkte toestande, alhoewel van die ryers gesê het dat die wind van voor opgesteek het in hulle laaste 10 km van die wedren.

Carlo Engelbrecht en Michaela Lubbe is as die ‘King & Queen of the Mountain’ aangewys. Oudtshoorn se fietsryers van die Cycle Addict-span, Serfie Serfontein en Corne Nel, het die Tandem-wedren gewen.

Oudtshoorn se eie ystervrou, Yolandie de Villiers, het die 2de plek op die podium in die Elite Vroue-wedren ingeneem, met Jackie Davidoff in die 3de plek en Michaela Lubbe in die 1ste plek. De Villiers het ook die 2de plek gewen in die Straatmylwedren.
Die algehele 5 podiumposisies in die mans-afdeling is in die 1ste plek Hanro Geldenhuys, Wynand Hofmeyr 2de, Rhys Burrell 3de, Carlo Engelbrecht 4de en Bradley Gouveris 5de. (LINDI BRILL)