SESTIG vroue, in spanne van 3, het Saterdag aan die “Girls Gone RX” kompetisie by Black Mountain CrossFit, Oudtshoorn deelgeneem.
Die dames behoort aan CrossFit bokse in Oudtshoorn, George en Mosselbaai, en kon of in RX of BAM (Bad ass in the making) kategorie inskryf. Oudtshoorn is verteenwoordig deur 7 spanne, waarvan die “Beefcakes” van Black Mountain CrossFit 2de plek behaal het in die RX kategorie. RX is die top kategorie, en mees uitdagendste uit alle CrossFit vlakke.
Die 1ste, 2de en 3de plek wenners in elke kategorie, het elk ’n heftige geskenkpak ontvang wat deur Biogen geborg is.
“Die doel agter GGRX is vir bewusmaking en om fondse in te samel vir “The Pink Drive”, wat ’n mobiele borskankereenheid ondersteun. Alle inskrywingsgelde is aan die liefdadigheidsorganisasie geskenk, met die hutsmerk #competeforacure”, sê Melanie Verlinde, organiseerder en eienaar van die gimnasium.
Op ‘n vraag oor hoe sy betrokke geraak het by die aanbied van die kompetisie, antwoord sy dat in 2019 sy aan ’n GGRX deelgeneem het in Kaapstad en dit vreeslik geniet het.
“Ek het GGRXSA gekontak en gevra of hulle weer so kompetisie gaan hou, en is ons gevra of ons boks dalk dit wil aanbied,”.
Sy het dadelik skouer aan die wiel gesit met die beplanning. Die kompetisie is baie streng en die boks moet voldoen aan baie kriteria, om die geleentheid te kan aanbied.
GGRX is nie net ’n nasionale instansie nie, maar dames neem ook internasionaal deel aan die kompetisie, alles vir ’n goeie doel.
Die agt beoordelaars was ook almal vanaf Oudtshoorn, en is die dorp se naam hoog gehou deur al die deelnemers wat hul staal gewys het.
“Van ons deelnemers was ’n dogter van 11, ’n mamma wie se prematuur baba maar 2,5 maande oud is en steeds in NICU is, en ’n swanger mamma – en hulle almal het deelgeneem! Net nog ’n bewys ALMAL kan CrossFit doen!” sluit Melanie af.
• ’n CrossFit gimasium staan bekend as ’n boks. (Deur Angelique Erasmus)
Fikse vroue van Oudtshoorn doen dit vir ’n besonderse doel
Die formidabele vroue van Oudtshoorn wat almal deelgeneem het aan die kompetisie. Agter, heel links, is die drie Beefcakes-span naaswenners van die RX-kategorie: Charlotte Wagener, Melanie Verlinde en Marlien van der Merwe. Foto: Deidre Cloete