Beurtkrag: Krag- en waterkrisis dreig!

AS daar ’n tekort aan water in die Groter Oudts­hoorn ontstaan, sal die rioolstelsel die eerste wees wat onder druk gaan kom.

Dit was die waarskuwing Dinsdag van die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Mac­pherson, met lang ure se beurtkrag wat tans ’n erns­tige invloed het op gebiede binne die munisipaliteit wat van pompe afhanklik is om water na gebruikers te pomp.

Macpherson het gesê dié lang ure se beurtkrag vandeesweek het ’n ernstige invloed op dié gebiede gehad, met veral in Dysselsdorp waar waterlorries van die munisipaliteit en die Tuinroete Distriksmunisipaliteit water moes aanry na inwo­ners.

Dysselsdorp se water word vanaf boorgate in die Vermaaksrivierkloof in die Kammanassieberg oor ’n lang afstand na die dorp gepomp.

Dié boorgate kan slegs met 4×4- voertuie bereik word, wat die installasie en bedryf van kragopwekkers daar uiters moeilik en geweldig duur maak.

“Die onderskeie pompstasies kan nie genoeg water pomp as krag so dikwels en lank afgaan nie.”
Macpherson het ’n ernstige beroep op inwoners van die hele Groter Oudtshoorn gedoen om waar moontlik water te bespaar en glad nie tans tuine nat te lei nie.

“Ons almal se primêre doelwit moet tans wees om ons rioolstelsel aan die gang te hou.”

Macpherson sê Dysselsdorpers en inwoners en landbouers wat hul water van die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema (KKKWVS) ontvang, is veral kwesbaar.

Volgens hom ervaar talle ander munisipaliteite wat afhanklik is van van water wat gepomp word, tans dieselfde probleem.

“Ek voorsien die moontlikheid dat ons ’n noodsituasie in sekere gebiede sal moet verklaar en amptelik ’n beperking moet plaas op watergebruik totdat dié krisis opgelos is. Ons probeer met Eskom onderhandel om nie die krag af te sit vir siklusse van vier ure lank nie, omdat daar dan nie genoeg tyd is vir die pompe om voldoende water vir gebruik te pomp nie.”

Macpherson het gesê die munisipale bestuur is ook baie besorg oor die uitwerking van die lang tye van beurtkrag op klinieke, hospitale en plaaslike besighede, asook die feit dat kommunikasie onderbreek word omdat selfoontorings na sulke lang beurtkragure ook tot stilstand kom.

• Volgens Chris Swart, senior bestuurder: water en riool by die Groter Oudts-hoorn Munisipaliteit, word die water vir Dysselsdorp en die KKLWSS na die suiweringsaanleg in Dysselsdorp gepomp vir suiwering.

Daarvandaan word dit verder na twee reservoirs in Dysselsdorp gepomp vir verspreiding na Dysselsdorp en die landelike areas. Dié landelike areas het ook verdere pompstasies wat weer die water na reservoirs in die verskillende streke pomp.

“Daar moet sowat twintig uur per dag water gepomp word om genoeg water te voorsien. Sodra die kragonderbrekings hoër as fase twee gaan, word dit moeilik om voldoende water te pomp.

Aanvanklik sal net die hoërliggende areas geraak word, maar tydens fase vyf en fase ses vermeerder die gebiede wat geraak word.

“Daar word egter tans dringend ondersoek ingestel met die hulp van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit om korttermyn-verligting te bring met watertrokke wat ingespan word om water te versprei.”

Verbruikers hier kan nou help krag opwek
’n Munisipale kennisgewing verskyn op bladsy 10 van hierdie uitgawe van Die Hoorn waarin verbruikers ingelig word dat die munisipaliteit ’n aansoekproses geopen het vir verbruikers wat belang stel om oortollige kleinskaalse ingebedde energie (SSEG) op te wek en in die munisipale kragnetwerk in te voer. (Deur Liesel le Roux)